Drie mense sit buite by ’n tafeltjie: ’n pragtige seuntjie, ’n ouer vrou en ’n jong man vol tatoes en armbande. Dit lyk soos ’n normale dag in die buitelug. Tot die jong man begin praat.

“Ek moet jou iets vertel,” sê hy terwyl sy vingers soekend oor die houttafel na die seun se hande reik. Ná ’n paar sekondes neem die seun die man se hand effe onseker in syne. Wat gesê word, is allesbehalwe wat enigeen wil hoor. 

“Mammie is gisteraand dood,” sê die man. Die kind begryp nie dadelik wat gesê word nie. Die man herhaal: “Mammie is gisteraand dood, oukei?” Die vrou skuif ongemaklik rond. Die seun se mond vertrek effens en hy kyk na die twee mense by hom. “Wat bedoel jy? My ma?”

Toe die man bevestigend antwoord, is die oomblik te veel vir die seuntjie. Terwyl hy vra hoe dit gebeur het, duik hy vir vertroosting in die arms van die vrou langs hom. 

“Weens dwelms,” word hy ingelig terwyl hy hartverskeurend huil. Die vrou bly snikkend sê sy is jammer, en so ook die man. Hy klim oor die tafel en omhels almal.

Waarskuwing: Video kan sensitiewe lesers onstel

Die video het uiteenlopende reaksies uitgelok - van skok oor hoe so ’n persoonlike, emosiebelaaide en pynlike oomblik so blatant met die wêreld gedeel kan word tot begrip oor hoekom dit gedoen is.

Die jong man is Brendan Bickerstaff-Clark (29) en die seun is sy seun, Cameron (8). Cameron se ma, Lacy Wood (29), is op 9 Oktober in Warren, Ohio, oorlede, in alle waarskynlikheid weens ’n oordosis heroïen. Die ouer vrou is Cameron se ouma Denise Dezee (51).

Lucy en Cameron.

Sy is Cameron se amptelike voog en versorg hom reeds vandat hy vier maande oud is. Die afgelope ses maande bly die twee in ’n skuiling vir haweloses. Cameron het ’n halfbroer genaamd Carter gehad, maar dié was van sy geboorte as ’n dwelmverslaafde geregistreer omdat sy ma gedurende haar swangerskap deurentyd heroïen gebruik het. Carter was net vyf maande oud toe hy in 2013 oorlede is.

Brenden het die video doelbewus openbaar gemaak. Hy verduidelik sy redes soos volg op Facebook:

“Dis vir ieder en elke dwelmverslaafde met kinders dié. Vandag moes ek my agtjarige seun vertel sy ma het weens ’n dwelmoordosis gesterf. Dit is die werklikheid . . . en die werklikheid van ons siekte. Moenie dat hierdie siekte maak dat iemand anders jou kind moet vertel jy is as gevolg daarvan dood nie.

“Dit was een van die swaarste goed wat ek nog moes doen. Weens heroïen het my seun nie meer sy ma nie. Dis nie maklik om dit te hoor nie, maar jy kan hoor wat ons sê. Kry asseblief hulp sodat ons kinders nie moet ly nie. Dis nie toneelspel hierdie nie; dis werklik. Ek het iemand gekry om dit af te neem sodat verslaafdes met kinders die erns van ons epidemie kan besef. Ek is ’n gerehabiliteerde dwelmslaaf wat nou al 94 dae lank skoon is. Deel hierdie asseblief en miskien kan jy ’n kind se ouer se lewe red.”

Luidens berigte gee Brenden toe die verslawing het ’n hoë tol geëis en dat dit sy en Cameron se lewe vernietig het. 

“Ek was meer in die tronk as wat ek kan onthou; vir goed soos aanranding, betreding en die besit van dwelms. Dwelms is sleg, sleg, sleg, en in Ohio is dit 'n epidemie. Ek wou iets positiefs uit Cameron se ma se dood laat voortspruit.”

Volgens die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming sterf daar daagliks sowat 78 mense as gevolg van heroïen.

Bronne: Facebook, inquistr.com, mailonline.co.uk, wkbn.com