Wanneer jy skoondheidswenke kry, kom dit gewoonlik van 'n supermodel wie se mooi gesiggie vir die kamera bestem is.

Die laaste mens van wie jy dit verwag, is van 'n 64-jarige ouma. En die laaste raad wat jy verwag om te kry, is om kleefband en 'n hoed te gebruik as jou vel en hare die oggend net nie reg lyk nie. 

Maar dié aweregse advies het van die Brit Sandra Boylan van Kennoway in Fife 'n oornag 'n sensasie gemaak.

Een van haar jong familielede het haar oortuig om die materiaal die kuberruim in te stuur om mense iets te gee om oor te lag.

En sy was vol in die kol! Volgens die Mirror het meer as 200 000 mense al na die video gekyk en duisende het dit op Facebook gedeel. Volgens die koerant laat die video mense krul van die lag.

Aan die begin van die video sê Sandra sy het die oggend in die bed gelê en dink oor al die grimeerwenke en hoe mense hul vel  moet mooi hou. “Maar wat van ons ouer mense met die meer volwasse vel?” vra sy. 

“Ek het 'n paar dinge bymekaargesit wat ek oor die jare gedoen het en ek dink nie ek lyk te sleg vir 64 nie. Ek weet almal gaan nie met my saamstem nie, maar miskien is dit net jaloesie.”

Sandra se drie belangrikste wenke:

  • Lipstiffie – Sandra kies die kleur waarvan sy hou en smeer dit aan haar lippe. Die wenk gaan natuurlik met 'n kragwoordjie gepaard toe die stafie breek.
  • Los vel – Vir dié prosedure, waarvoor die meeste mense duisende rande sal opdok, is Sandra se raad maklik en goedkoop: Gebruik kleefband; jy sal byna dieselfde resultate kry. Kyk hier na die video om presies te sien hoe jy die kleefband aan jou gesig moet plak.
  • Onnet hare – Wanneer jy die dag uit die bed klim en jou hare lê nie soos dit moet nie, kan jy 'n hoed opsit. In Sandra se geval sommer 'n mus met 'n hondjiegesig op.

Sandra kan nie glo watter ophef die video gekry het nie, berig Mirror. 

“Dit was  net 'n simpel video wat ek vir familie en vriende gemaak het. Een van hulle het gesê ek moet dit openbaar maak sodat almal 'n bietjie kan lag,” het Sandra aan die koerant gesê. 

“Dankie aan al die duisende mense en vir die pragtige kommentaar wat almal gelukkig gemaak het. Dit het my ook sommer gelukkig gemaak.”