Oor minder as twee weke kom die mooiste vrou in Suid-Afrika te staan teen skoonhede van oor die wêreld heen om dit uit te spook vir die gesogte Mej. Wêreld-titel.

Ntandoyenkosi Kunene, wat deur vriende en familie Ntando genoem word, gaan vanjaar Suid-Afrika se naam hoog hou by dié glansryke geleentheid wat op 18 Desember naby Washington in die Amerikaanse deelstaat Maryland plaasvind.

“My ouers het my nog altyd ondersteun en daar was hoogte- en laagtepunte. Ek is verheug dat hulle saam met my Washington toe kan reis,” het die 24-jarige skoonheid op Facebook geskryf en ’n foto van haar en haar ouers gedeel.

Sy dra die geel JJ Schoeman-aandrok wat sy by die wedstryd as amptelike drag gaan dra.

“Dit is my ouers se eerste oorsese reis. Ek het nog altyd gewens ek kan my ouers eendag oorsee neem. Die reis wat God vir my geskep het, is om my ouers hierheen te bring.”

  Ntando, wat in Mkhondo by Piet Retief grootgeword het, geniet duidelik die opwindende aanloop tot die groot geleentheid.

A photo posted by Ntandoyenkosi (@kunene_ntando) on

Sy het reeds aandag getrek en is as ’n halfeinddeelnemer in die talentkompetisie-afdeling van die wedstryd aangewys. Sy het voorheen erken sy is lief vir sing en haar sangtalent het duidelik die beoordelaars beïndruk.

Sy het onder meer Capitol Hill - waar die Amerikaanse wetgewer is - besoek en geskerts dat sy hoop om die huidige presidentsvrou, Michelle Obama, raak te loop.

Ntando se kamermaat by die wedstryd is Karla de Beer van Nieu-Seeland. Karla is in Pretoria gebore en het glo as 11-jarige saam met haar gesin na Nieu-Seeland geëmigreer. Sy is in Julie vanjaar as haar land se mooiste gekroon.

Die deelnemers moet ’n rits uitdagings deurmaak om ’n plek in die top-20 te bekom. Hulle word punte toegeken vir elke uitdaging en die wenner van die Mej. Talent-kompetisie bekom outomaties ’n plek op die top-20-lys.

Ons hou vir jou styf duim vas, Ntando!