Kyk net hoe die span, wel, saamgespan het toe ’n vrou in Vancouver probleme met ’n pap wiel opgedoen het. Nog voor jy kan sê “Blits” het een van ons manne die domkrag ingespan, die ander die wielmoere losgewikkel en die res het seker gemaak die spaarwiel is byderhand. Seepglad, nes daardie flink bal-aangee-oomblikke tydens wedstryde.

Een van die omstanders is duidelik ’n groot aanhanger van die flukse manne – hy het hulle onmiddellik as die Sewes-wêreldkampioene verklaar. Hy het duidelik net soveel vertroue in die Blitsbokke se vermoë as die res van Suid-Afrika.

Terloops, as daar enige twyfel was of die manne wel van ons mooi land afkomstig is – dan het daardie “Marie biscuit”-verwysing na die spaarwiel dit soos mis voor die son laat verdwyn!

Sondag 20:08 (SA-tyd) speel die Blitsbokke in die bekerkwarteindstryd teen Kanada. Die wedstryd word op SuperSport 1 uitgesaai.