Selfs nie al is daar ’n eensgelyke peperduur luukse paar wiele dwars voor haar geparkeer nie.

Dié petalje, wat menige motorliefhebber na sy en haar hart sal laat gryp, het glo op 23 Mei in Xiamen-stad, China, plaasgevind.

Die vrou gebruik haar Range Rover soos ’n wafferse Middeleeuse stormram en tref die Jaguar nie net een keer nie, maar sommer ’n hele halfdosyn keer.

Kwalik sekondes het verstryk voordat dit in ’n toeskouersparadys ontaard het. Die manne het ook nie gehuiwer om haar aan te hits om die Jaguar op spesifieke plekke te stamp nie, en sommer harder te stamp nie.

Hulle het duidelik nie besef hoe gevaarlik ’n omgekrapte Eva agter die stuur regtig kan raak nie.

Geldsake wat suur geraak het, is in alle waarskynlikheid die oorsaak van die duur vertoon van woede en ontevredenheid. Erger nog, dis nie eers die vrou self wat daardeur geraak is nie. Dit is glo onenigheid tussen haar ma en die eienaar van die Jaguar.

Om die kroon te span, lyk dit asof sy haar Range Rover se magtige perde in toom gehou het met die doel om die Jaguar soveel skade as moontlik te berokken. Eers nadat sy seker was die vaartebelynde Jaguar het sy mooi voorkoms op die brutale manier verloor, het sy rustig die toneel verlaat.

Dit is verbasend dat geen toeskouers in die voorval beseer is nie.

Volgens die People’s Daily is daar ook nog ’n nare woord wat glo opgeduik het wat tot dié konsternasie op straat gelei het: bedrog.

Die saak word ondersoek.

Bron: YouTube

Lees ook op Huisgenoot.com:

Nóg ’n terugslag tref Bill Cosby tydens sy seksverhoor

5 van die koelste eksperimente wat tans op die Internasionale Ruimtestasie uitgevoer word

Kamera, ligte en aksie! Ons HG-fliek is in wording

Skoknuus in ondersoek na gedoemde EgyptAir-vlug bekend gemaak

O koek! Die ‘reëndruppelkoek’ met sy byna geen kilojoules neem die internet op horings