Die Bulls vat die Toyota Cheetahs op Saterdag 2 April in die vyfde ronde van die Vodacom Superrugbyreeks aan.

Die wedstryd vind boonop by Loftus Versfeld, die tuiste van die Bulls, plaas.

Wat onderskei die wedstryd van enige ander wedstryd op vanjaar se rugbykalender? Wel, die Bulls sal in pienk uitrustings op die veld uitdraf (glo baie anders as die vorige pienk uitrusting) en aanhangers sal die geleentheid kry om een van die 23 truie van die wedstryd in die hande te kry.

Die doel van die uitrusting is om geld in te samel en bewustheid te bevorder vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) as deel van die #GetYourPinkOn-veldtog. Dit volg op die sukses van die eerste #GetYourPinkOn-veldtog tussen die Bulls en Kansa in 2012.

Die Bulls wil vanjaar meer as ’n halfmiljoen rand bymekaarmaak met hul trui-geldinsameling, ’n SMS-lyn en verskeie handelsmerkborgskapgeleenthede.

Elke sent wat met die #GetYourPinkOn-veldtog ingesamel word, gaan direk aan Kansa.

Elize Joubert, uitvoerende hoof van Kansa, is verheug om weer deel van die veldtog te wees. “Om deel te wees van die #GetYourPinkOn-veldtog is ’n uitstekende geleentheid vir Kansa om op te voed en die belangrikheid van gereelde borskankerondersoeke te beklemtoon om vroeë opsporing te bevorder en behandelingsresultate te verbeter.

"Ons is verheug dat ons met die Vodacom Blue Bulls-span en hul ondersteuners kan saamwerk. Hulle het gewys hulle het wonderlike harte en ons sien daarna uit dat hulle hul ‘pienk’ harte met ons deel.”

Dit lyk of die wedstryd (om 19:10 op 2 April) uiters gewild gaan wees. Ondersteuners word aangemoedig om die wedstryd in pienk by te woon.

Klik hier vir nog inligting oor maniere om betrokke te raak en die saak te bevorder.

Lees ook op Huisgenoot.com:

‘Celeste, ek het nooit jou kind uit jou arms gevat nie,’ sê Zephany se grootmaakma in hof

Jy sal nie glo by watter gewilde Afrikaanse sangeres het die ooievaar kom kuier nie!