Mosha, ’n tien jaar oue olifant van Thailand, het op ’n landmyn getrap toe sy 7 maande oud was en een van haar pote verloor.

Maar dié gelukkige olifant het onlangs haar negende kunspoot ontvang danksy die Friends of the Asian Elephant Foundation-hospitaal in Thailand. Omdat Mosha so vinnig groei en gewig aansit, is dit noodsaaklik dat haar kunspoot gereeld aangepas word. Volgens Reuters het sy 600 kg geweeg toe sy beseer is tien jaar gelede; vandag weeg sy 2 000 kilogram.

Prof. Therdchai Jivacate, ’n ortopeed wat help om prostetiese pote vir olifante te ontwerp, meen olifante kan nie sonder een van hul pote, of ’n goed aangepaste prostese, oorleef nie.

“Die manier waarop sy geloop het, was ongebalanseerd en haar rug sou buig. Dit beteken sy sou haar kraakbeen beseer en eindelik ophou loop. Sy sou doodgaan as gevolg daarvan,” het Therdchai aan Reuters gesê.

Nog ’n diere-inwoner van die hospitaal, Motolo, het saam met Mosha ’n protetiese poot ontvang. Sy het ook een van haar pote in dieselfde gebied in 1999 verloor.

Volgens Buzzfeed kan Motolo vanweë die aard van haar besering nog nie gemaklik loop met die poot nie; daarom bestaan ’n risiko dat sy bedsere kan kry.

Bronne: Buzzfeed, Reuters, New York Times