Gewoonlik laat verkeersknope ’n mens warm onder die kraag. Maar in Dayton, Ohio, het niemand omgegee dat hulle vir sowat ’n uur in ’n nare verkeersknoop tot stilstand gedwing word nie.

Die rede? Jeff en Rebecca Payne van Centerville het mekaar so pas die jawoord gegee en was op pad na hul huweliksonthaal in Dayton toe vyf ongelukke op die US-35-snelweg hul planne in die wiele ry. Letterlik.

Een van die motoriste het die paartjie in hul trougewaad gewaar en voorgestel die twee doen sommer hul eerste dans as mnr. en mev. Payne net daar en dan. So gesê, so gedaan.

En waar ’n motor naby is, is daar altyd die kans op musiek. Jy gaan nooit weer na Alison Krauss se liedjie kan luister sonder om dié onvergeetlike dans voor jou geestesoog te sien nie.