“Ons het die video op ’n verlate stuk pad oor ’n brug geskiet,” vertel die geliefde prins van pop vir Huisgenoot. “Annatjie ken my in en uit. Dit gaan basies oor die liefde bedek alles, hoop alles, verdra alles. Die tema is maar nes die liedjie: geloof, hoop en liefde.”

Annatjie is maar baie skaam, bieg hy. “Dis moeilik en embarassing om in ’n nagrokkie op ’n pad te lê met 30 mense om haar. Dit was ’n vreemde ervaring vir haar,” vertel Bobby.

Lees ook: Kyk watter oulike geskenk het Bobby sy spruite mee bederf

Maar Annatjie, die ma van sy seuns, Sion (4) en Leben (3), en ses maande oue dogter, Armani, het haar duidelik goed van haar taak gekwyt. Bobby het op Instagram en Facebook foto’s van hulle op stel gedeel en daarby geskryf: “Dankie aan almal wat hard gewerk het, en my vrou sy’t mooi gemaak!”

Dis nie die eerste keer dat Annatjie haar lyf musiekvideo-ster hou nie. Sy was ook al onder meer te sien in Bobby se musiekvideo's ’n Vrou Wil Dit Hoor en Een vir Een.

So gaan die Van Jaarsveld-kroos ook een van die dae hul debuut in pa se video maak? Bobby lag. “Ons wys nie eintlik ons kinders nie. As dit gebeur sal jy hulle net vaagweg sien," vertel hy laggend.

Sy jongste musiekvideo word een van die dae uitgereik. Hou dié spasie dop!