[caption id="attachment_63049" align="alignnone" width="600"]Carike Keuzenkamp Foto: Tumelo Leburu[/caption]

“Ek is dankbaar vir al die genade in my lewe. Daar was baie dinge wat oor my pad gekom het, maar ek het baie genade gekry,” vertel Carike aan Huisgenoot.com.

Carike en haar familie gaan môre ’n rustige familiebyeenkoms hou omdat sy verkies om liewer lekker saam met ’n klein groepie mense te kuier.

“Ek is nie een vir groot partytjies nie; klein partytjies is maar my ding. Ons het pas ook nou by ’n nuwe kompleks in Randburg ingetrek; so daar was ook nie tyd om ’n partytjie te reël nie,” skerts sy.

Haar ses kleinkinders is beslis waarvoor sy die dankbaarste is. Klein Ewan (3) en Christi (1) kom spesiaal met hul ouers uit Kaapstad om hul ouma se verjaardag te vier.

Christi het ook gister haar eerste verjaardag gevier, die “roos tussen die dorings”, soos haar ouma haar noem. Olaus (5) en Meiring (3 maande) sal ook by die geleentheid wees. Haar oudste kleinkinders, Neil (16) en Jacques (12), en hul ouers woon tans in Amerika.

“My kleinkinders is natuurlik die grootste vreugde in my lewe!”

En met soveel lewenservaring, het dié bekroonde sangeres natuurlik volop wyshede om te deel. “Wees altyd jouself en geniet die lewe,” is haar raad.

“Wees dankbaar vir elke ding wat oor jou pad kom,” voeg sy by, want alles gebeur met ’n doel. “Geniet dit en wees dankbaar, selfs oor die dinge wat nie lekker is nie.”

Veels geluk, Carike!