Steek vir steek, met afgemete dringendheid, het haar meesterstuk vorm aangeneem vir die winter.

Ja, breiers ken die euforiese gevoel as jy daardie meesterstuk van ’n mussie, serp, kombers of trui voltooi en dit vir die eerste keer teen jou lyf voel. 

Huisgenoot  deel in die genot met Huisgenoot-Brei wat nou te koop is en vol lieflike style vir die hele gesin is. Die spesiale uitgawe bied ’n verskeidenheid lieflike patrone – van die oulikste truitjies en rokkies vir babas en kinders tot snoesige serpe, lekkerdra-truie vir mans en vroue, sagte stewels en ’n karaktervolle hasie-speelding. Daarby is al die patrone deur kundiges nagegaan om jou brei-ervaring ’n plesier te maak.  

Huisgenoot deel in die genot met ons spesiale breiuitgawe wat nou te koop is en lieflike style vir die hele gesin het. Elke patroon is deur kenners goedgekeur.

Ons het ook by ’n paar bekendes ingeloer om te hoor wat hulle graag brei en waarom breiwerk vir hul soveel plesier verskaf. 

Die aktrise Susanne Beyers, wat onlangs te sien was in kykNET se speurreeks Die Boland Moorde, meen brei is ’n manier om spanning te verwerk. 

“Shakespeare het mos gesê: ‘Sleep that knits up the raveled sleave of care.’ Dis dieselfde met brei: Jy dryf so half al jou spanning en angs weg,” verduidelik sy.

“Ek brei die een kombers na die ander. Ek kan dit voor die televisie doen. Ek kan dit op ’n filmstel doen terwyl ek sit en wag. Dis heerlik. Dis vir my meditasie, ’n manier om uit my eie kop te kom. My hele sitkamer lê vol komberse. Ek brei vir almal komberse en nadat almal een gekry het, brei ek nog. Ek brei sommer so uit my kop en in die kleure waarvan ek hou. Ek beplan nie eintlik vreeslik baie nie. Ek weet nooit hoe die eindproduk gaan lyk tot dit klaar is nie,” sê Susanne.

“Ek het soos die meeste mense in st. 2 by my naaldwerkjuffrou leer brei. Maar ek het altyd ’n baie swak punt gekry en my ma moes my projekte voltooi.” 
Deur die jare het sy verskillende style beproef en in die proses uitgevind sy is mal daaroor om komberse te brei. Nou is dit liefdeswerk waaraan geen keer is nie. 

Simone Biscombe, wat Bianca Fourie in die kykNET-sepie Suidooster speel, was 12 jaar oud toe sy haar eerste trui brei.

“Toe ek ’n klein meisietjie was, het ons in die laerskool brei- en naaldwerk gedoen. My ouma, Rosina Gordon (nou 89), het my eendag al sukkelend sien brei en my net daar gewys hoe ’n mens daardie eerste steke brei. Ek was seker so 11 jaar oud.”

Sedertdien is Simone gek oor die uitdaging om ’n stuk wol te neem en dit in iets besonders te omskep. 

“Dit is ’n lekker afwisseling. Eerder as om in die af tye tussen tonele te sit en niks doen nie, sal ek my breiwerk nader trek en my hande besig hou. Ek sal sommer brei terwyl ek my woorde leer. Dit help my om te fokus.” 

Sy brei graag truie, mussies en serpe. Haar serpe was al so gewild dat sy verlede jaar ’n klomp aan ’n stalletjie by die gesogte Kamers-skou verskaf het.

Wanneer sy nie besig is by Suidooster nie, dans sy graag om fiks te bly. Haar breivaardigheid is ook al by haar danslesse waargeneem. “As ’n danser moet jou kuitspiere warm bly,” verduidelik sy. 

Sy het op aanvraag van haar dansonderwyser en medestudente begin om “leg warmers” te brei. 

“Brei is so ’n veelsydige stokperdjie. ’n Mens kan regtig op enige plek brei. Ek kan op stel brei, in die bed of in die voorkamer terwyl ek op ’n Sondag saam met ’n vriendin kuier.”

Die aktrise Theresa Sedras is ook lief vir brei. “Dit gee my die kans om te ontspan en neem my brein op ’n reis.”

Wat sy brei hang af van die tyd waar sy in haar lewe is. Daar was kindertruitjies toe sy vroeër ma geword het, komberse en serpe. Die liefde is gekweek tussen die breilesse wat sy as meisietjie op skool gehad het en haar ma se liefde vir naaldwerk en klere maak.

“Ek is die trotsste op so ’n dik, lang trui wat ek vir myself gebrei het toe ek net begin werk en die eerste keer verlof kry. Dit was in 1971 en ek het twee weke afgehad.”

Nou nog is dit ’n pragstuk; ’n pronkstuk. 

“Mense kan nie glo hoe lank ek die handgemaakte trui al dra en dat ek dit self gebrei het nie,” vertel Theresa, wat in Suidooster die rol van Mev. Jacobs vertolk. 

“Dis so ’n lekker dik trui en kom veral nou in die koue wintermaande nuttig te pas.”