Hy het diep in ons hart gekruip toe ons hom 15 jaar gelede elke oomblik van die dag kon dophou op die werklikheidsprogram Big Brother. En vanjaar bring Ferdinand Rabie ’n uitdaging na Suid-Afrika wat die land nog nooit beleef het nie.

[caption id="attachment_135041" align="alignnone" width="600"]Ferdinand Rabi is aan't fiks raak! Foto: Misha Jordaan Ferdinand Rabi is aan't fiks raak! Foto: Misha Jordaan[/caption]

Die Fisherman’s Friend StrongmanRun is ’n hinderniswedloop wat vir die eerste keer in 2007 in Duitsland gehou is en bestaan uit ’n roete met verskeie hindernisse.

Dit sal die eerste keer wees dat dié wedloop buite Europese grense gehou word en dit beloof om ’n prentjiemooi uitdaging vol pret en hope kameraadskap te wees.

Die wedloop, wat op 1 Oktober in en om die Paarl gehou word, sal ’n 21 km-, 14 km- en 8 km-roete hê. Deelnemers word uitgenooi om in snaakse kostuums deel te neem. Hulle kan ook stap en hoef dus nie bang te wees dat hulle nie fiks genoeg is om die wedloop te voltooi nie.

Ferdinand (41) gaan self ook deelneem. As deel van sy voorbereiding het hy opnuut besluit om die stryd teen die vetjies te pak en sterk en fiks te word.

“Ek het so ruk gelede saam met my seuntjie (Christian, 4) op die gras bal geskop en toe voel ek hier is voel dinge nie reg nie.” Hy sorg nou dat hy nou drie keer per week in die gimnasium uitkom en oefen saam met ’n persoonlik afrigter. Hy probeer ook gesonder eet en hoewel dit nie altyd maklik is nie, het hy al meer as 5 kg afgeskud.

“Strek is die belangrikste,” sê Ferdi oor sy oefenroetine. “Dit het ek nou agtergekom. As jy nie voor en ná die tyd strek nie, het jy ’n probleem. Tien keer.”

Hy sê sy lewensmaat, Samantha Swartz, ondersteun die nuwe blaadjie wat hy omgeslaan het, maar sê vir haar is dit die belangrikste dat hy ophou rook. “Die rook is vir haar die ding, maar dis moeilik. As ek my weer kom kry, trek ek aan ’n sigaret. Maar dit is iets wat ek regtig nou vir myself wil doen.”

Hulle woon nou al twee jaar in Brackenfell in die noordelike voorstede van Kaapstad en Ferdinand sê dit is die beste plek waar hy nog gewoon het. “Jy het die wingerde waar die bergfietse kan ry; jy is naby aan alles. Ons is baie gelukkig daar.”

Hy is dol daaroor om pa te wees. “Dis lekker, want Samantha het nou twee kinders in die huis,” spot Ferdinand deur na homself as die tweede kind te verwys.

“Ons albei hou van dieselfde goed. Ons eet saans skelm roomys. Christian is mal oor die Ninja Turtles, Hulk en Captain America. Die skool laat weet ons altyd hy speel ’n bietjie rof, maar dit is omdat hy die karate-moves uithaal. Sy Engels is net so goed soos sy Afrikaans,” spog die trotse pa.

“Hy is flippen intelligent.”

Besoek strongmanrun.co.za om te registreer en vir nog inligting.