[post-slider]

Albei is bruingebrand en sprankelend, terwyl hulle in eenderse klere straal. Dit was heeltemal toevallig dat daar soveel ooreenkomste in hul styl is, vertel Amor laggend by navraag.

Sy was baie verras toe haar vriend André Huysamen vir haar die foto’s van haar en Jennifer Lopez (J-Lo) in eenderse uitrustings stuur.

“André is gaande oor J-Lo,” vertel Amor. “Hy is baie kreatief en altyd besig om iets te ontwerp of te maak.”

Sy het op die vloer gelê van die lag toe sy sien hoe André foto’s van haar modes met die jare met foto’s van J-Lo se modes vergelyk het. Dit was die eerste keer dat Amor die ooreenkomste in hul klerestyl raakgesien het.

“Ek het J-Lo nog altyd as ’n pop-ikoon beskou. Sy is absoluut pragtig, maar ek is nie iemand wat versot raak op ’n oorsese kunstenaar of iemand sal navolg nie,” vertel die plaaslike sangeres en aanbieder van Skoonma-Se-Tong op VIA (DSTV se kanaal 147).

“Ja, ek is gek oor Kylie Minogue, Celine Dion en Jennifer Lopez se musiek en sal graag hul vertonings bywoon, maar ek sal nooit probeer om hul steil na te aap nie.

“Elke mens is uniek . . . en ek voel sterk daaroor dat ’n mens jou eie ding moet doen,” sê Amor. André het ook vir haar ’n foto gestuur om te wys hoe baie haar ma na J-Lo se ma lyk.

Dis dalk vanweë hul agtergrond dat hulle eenderse smaak het, meen Amor. “J-Lo is Latyns en my pa is Italiaans; so dalk is daar stylgewys ’n gedeelde belangstelling.

“Ek hou van die bruingebrande velle, van die somer, Latino, Italiano, die hele Mediterreense styl.

“Maar J-Lo is ’n superster,” voeg sy by, “ek is maar net ’n Afrikaanse meisie wat musiek maak.”

Op van die foto’s is daar ook soortgelyke oomblikke.

Op een foto staan J-Lo by ’n perd; op ’n ander Amor. Op nog kiekies word hulle albei gedurende een van hulle vertonings soos ’n Egiptiese koningin deur twee mans rondgedra.

En op nog staan hulle albei langs die Spaanse hartebreker en sanger Enrique Iglesias. “Ek het hom ’n paar jaar gelede ontmoet toe hy Suid-Afrika besoek het,” vertel Amor.

13698161_10154363049084508_7617688499415337061_o

Sy is bevriend met Attie van Wyk, hoof van Big Concerts, en hy het die ontmoeting gereël. “Ek het Italiaans met Enrique gepraat en hy kon verstaan wat ek sê. Ek het hom vertel ek is Suid-Afrikaans en sing in Afrikaans, en toe gee ek hom een van my albums en hy teken toe ook vir my een van sy albums.

“Ek het lekker gelag toe hy sê: ‘Gee my ’n groot druk,’ en hy my toe so ’n kielie gee. Dit was vir my ’n groot oomblik. Hy was fantasties: plat op die aarde en so gaaf.”

Hoe sal Amor haar klerestyl beskryf?

“My styl het met die jare verander soos my liggaamsbou verander het. Jy raak ouer en ’n mens sit gewig aan op plekke waar jy nooit voorheen gewig gedra het nie. Ek dink dit is belangrik om te weet wat jou eie sterk punte is.”

Sy dra klere wat haar goed oor haarself laat voel.

“Ek weet byvoorbeeld ek het voorheen ’n klein middel gehad, maar ek kan nie nou meer goed dra wat te styf om my middel span nie. En ek kan ook nie klere dra wat onder ’n mens se borste begin uitsprei nie, want dan lyk ek soos ’n swanger vrou.

“Ek het ’n kort lyfie; dus moet ek goed dra wat onder my heupe begin uitsprei en hemde van die skouer af – my skouers is my sterker punt en ek sal liewer dit beklemtoon.

“Ek hou van ’n klassieke styl en ook van ’n sexy voorkoms, solank dit met styl en klas gedoen word. Dis vir my belangrik dat ’n mens volgens jou eie persoonlikheid aantrek en nooit volgens iemand anders s’n nie.

“Kyk na ander en steel die tendense wat hier en oorsee opspraak maak, maar hou by wat vir jou werk. Klassiek, van die skouer af en bietjie losser klere, is waarvan ek hou.

“My gunsteling-uitrusting is jeans (geskeur), maar wat losser sit met wit tekkies en net ’n sexy T-hemp daarby. Dis vir my stylvol en pragtig!”