As Posh gedink het klein Harper gaan ’n tipiese meisie wees, het sy dalk ’n verrassing gekry.

Dit lyk of die skattige vierjarige pappa se meisiekind is op ’n foto wat die trotse David Beckham gister op Instagram gelaai het. Die voormalige sokkerster het sy aanhangers ’n seldsame blik op die Beckhams se gesinslewe gegee met ’n foto van Harper wat regmaak om te gaan slaap.

“Tandetyd ’n paar uur gelede en ek het afgekom op haar wat op haar tone staan in United-drag en met ’n volmaakte vlegsel,” het hy by die foto geskryf. “Kan dit ouliker wees?”

Die 40-jarige het ’n paar jaar gelede uit beroepsokker getree, maar dit lyk of sy dogter nou sy no. 7-trui lewend hou. En dit verskaf die toegewyde pa blykbaar eindelose vreugde.

Victoria het aan die Times on Sunday gesê die sokkertrui is haar dogter se gunsteling-kledingstuk.

Sy het selfs onthul Harper het eenkeer vir haar gesê: “Mammie, ek dink ek wil sokker speel.”

Dit was “soos ’n dolk deur die hart”, het die 41-jarige ma onlangs op die geselsprogram Good Morning America geskerts.

Maar Harper is nie heeltemal ’n rabbedoe nie. Sy word gereeld saam met haar uiters stylvolle ma by modevertonings opgemerk en is dan altyd spoggerig uitgevat.

Die New York Times het selfs ’n modeblog wat aan die pragtige kleuter gewy is.

“Sjoe, ’n voltydse blog net oor haar? Regtig?” het die voormalige Spice Girl gevra. “Dis nogal wonderlik. Ek het geen benul gehad nie. En dalk ’n bietjie vreemd. Ek veronderstel dit sê baie oor die wêreld waarin ons vandag leef.”

Maar die modeontwerper en eertydse popster het bygevoeg dit verbaas haar nie, want “Harper is ongelooflik sjiek en dra ongelooflik oulike goed”.

“Sy is ’n baie stylvolle dingetjie met haar eie sin van hoe sy wil aantrek.”

Harper Seven is die jongste van David en sy vrou, Victoria, se kroos. Hulle is ook die ouers van Brooklyn (16), Romeo (13) en Cruz (11).

Bronne: MailOnline, Good Morning America, Times on Sunday, New York Times

Ander stories op Huisgenoot.com:

Hierdie 19-jarige perderuiter is die wêreld se jongste biljoenêr

‘Ons kruip weg vir veiligheidspolisie,’ vertel vasgekeerde SA gesin angsbevange uit Oman

Ag moeder! Kyk net hoe oulik is AB de Villiers se kleinding!

Talle diere vrek ná hul vergiftigde karkas in Krugerwildtuin vreet