“Baba groei mooi,” het die sangeres Andriëtte Norman vandeesweek op Instagram by ’n sonarfoto van haar en manlief, Glynn Moolman, se kleinding geskryf. “Dis wonderlik om te dink so ’n mensie ontwikkel binne jou liggaam.” Hul prinsie of prinsessie sal na verwagting in Februarie gebore word. Glynn, ’n biokinetikus, is reeds die pa van ’n oulike kleuterseun. Voor die paartjie se troue verlede jaar was hy ’n enkelpa.

Die aktrise Angelique Gerber het ook op Instagram ’n sonarfoto gedeel waar ’n mens duidelik die oulike hande, voete en neusie van haar en die Blou Bul-rugbyspeler Jacques Potgieter se seuntjie kan sien. Hul eersteling gaan ook Jacques heet. Ons is baie nuuskierig om te sien na wie hy gaan lyk. Angelique het by die sonarfoto geskryf haar dokter, Heidi Richter, het alles verduidelik van hul bulletjie se hartkleppe, are, longe en niere en “aanhou foto’s neem tot hy sy handjie (wat hy heeltyd voor sy gesiggie gehou het) geskuif het.
“Ek wys ’n foto van sy voetjie, want die dokter sê hy het groot voete vir ’n baba van 26 weke (soos sy pappa@jacquespotgieter7 – en daai voet skop my elke dag flippen hard in die blaas),” het sy bygevoeg. “Ek kan nie wag om die lyfie vas te hou en hom op te soen en te ruik nie. Dankie vir jul gebede; ons waardeer dit opreg!”
Die sanger Arno Jordaan se seun behoort nou enige dag sy opwagting te maak. Arno het in Mei vanjaar ’n sonarfoto van sy vordering gedeel. Mamma Lizanie was toe 23 weke swanger en die knapie het net 500 g geweeg. “Hy lyk nogal moedeloos, moet ek sê,” het Arno geskerts by die foto, waar die bulletjie se hand op sy voorkop rus. Arno en Lizanie is reeds die trotse ouers van Milan (2).

A photo posted by @arnojordaan on

Met die oulike voorsmake, kan ons nie wag om die gesinne se nuwe toevoegings te ontmoet nie.