Kinders en ouers was nog altyd dol oor Lego, maar oor die naweek het die maatskappy nog harte gewen toe ’n Reddit-gebruiker ’n foto van ’n nota gedeel het wat Lego in die 70’s in hul verpakking saamgestuur het.

XmlDUox - Copy

Die nota dra ’n sterk boodskap oor geslagsgelykheid, wat taamlik vooruitstrewend is as ’n mens die era in ag neem waarin dit gestuur is.

Die nota lees:

“Aan ouers

Skeppingsdrang is ewe sterk in seuns as in meisies.

Dit is die verbeelding wat saak maak. Nie die vaardigheid nie. Jy bou net waaraan jy kan dink, soos jy dit wil hê. ’n Bed of ’n vragmotor. ’n Pophuis of ’n ruimtetuig.

Baie seuns hou van pophuise. Dit is mensliker as ruimtetuie. Baie meisies verkies ruimtetuie. Dit is opwindender as pophuise.

Die belangrikste is om die regte materiaal in hul hande te sit en hulle toe te laat om te skep net wat hulle wil.”

Welgedaan, Lego, dat julle toe al besef het kinders moenie aan geslagstereotipes onderwerp word nie!