Dis amper ongelooflik dat dié gr. 6-leerder aan die Laerskool Welgemoed in Kaapstad se noordelike stadsgebiede nog net vier jaar lank klavier speel.

En nou het hy die geleentheid gekry waarvan die meeste pianiste net kan droom: die kans om onder Lang Lang, ’n Chinese meesterpianis, te studeer tydens ’n musiekkamp in Pole.

“Toe hy hoor hy is aanvaar, het hy in trane uitgebars,” vertel sy trotse pa, Denric, aan Huisgenoot. “Hy kon dit nie glo nie!” Qden (12) is een van 10 kinders – en die eerste uit Afrika – wat uit meer as 500 aansoekers uit alle wêrelddele gekies is om die toonaangewende Allianz-musiekkamp in November in Warskou mee te maak.

DSCF1946

En dit gaan hom nie ’n sent kos nie – alle uitgawes word vir hom en een van sy ouers betaal. Hy wil sy pa aan sy sy hê. Sy ma, Quinette, “stres te veel”, skerts die wonderkind.

Lees ook: SA slimkop vind droogteoplossing – en wen topprys van Google daarvoor!

Die reis gaan die kroon span op ’n jaar propvol eerbetonings vir Qden, waaronder sewe trofeë op die Stellenbosse Eisteddfod en twee op die Cape Town Eisteddfod.

Wanneer hy in Pole aankom, sal hy elke dag twee instuderingslesse by beroepspianiste kry. Hy gaan ook meestersklasse kry by Lang Lang en in konserte in Pole optree. Dis ’n yslike eer. Lang Lang, ’n befaamde konsertpianis, het al in toonaangewende konserte oral ter wêreld opgetree. Hy het in 2011 in die Wit Huis gespeel.



Qden het sy gawe amper per toeval ontdek. Vier jaar gelede, toe hy in gr. 2 was, het hy ná skool voor die musiekkamer gewag dat sy ma om hom kom oplaai. Hy het van die klanke gehou wat uit die vertrek kom en vir sy ma gevra of hy ook kon begin lesse neem.

Hy was absoluut uitgeknip vir klavierspeel.

Hy het begin om bladmusiek van die internet af te laai en het homself geleer om dit te lees. Hy het hom verdiep in YouTube-video’s om soveel moontlik te leer. Terwyl sy onderwyseres hom by die skool besiggehou het met die basiese toonlere, sou Oden hom huis toe haas en moeilike Beethoven-stukke baasraak, met sy vingers slegs ’n warreling oor die klawerbord.

Lees ook: Hierdie tongkrullende meisiekind kan haar eie elmboog lek!

Hy is ook ’n ontluikende komponis en sy komposisies is al oor plaaslike radio uitgesaai. Een daarvan is selfs al tydens ’n konsert in Adelaide, Australië, uitgevoer.

Qden probeer soveel moontlik oefen. Dit is moeilik in die week, want hy moet huiswerk doen en vir toetse leer. Maar naweke bring hy minstens drie uur per dag voor die klavier deur.

Geliefkoosde komponis? Ongetwyfeld Mozart. Trouens, Oden, sy agtjarige sussie, Quine, en sy ouers het verlede jaar afgesit na Salzburg in Oostenryk sodat Oden sy held se geboorteplek kon sien.

Hoe voel ma en pa oor hul talentvolle seun? “Ons is natuurlik ongelooflik trots,” sê Denric. “Maar, bo en behalwe dit, is ons net so bly om sy onthalwe dat hy dit kan doen waarvan hy die meeste hou.”