’n Gholf-uitstappie in 1982 was die beginpunt van Bennie Jordaan (65) van Swellendam se unieke stokperdjie. “Ek het in Caledon gaan gholf speel, en besef ek het nie ’n gholfkep gebring nie. Toe hoor ons van ’n vrou op Caledon wat sulke goed verkoop. Ek het toe een van daai pette met die tosseltjie op gekoop.”

Sedertdien het die ding net begin “vloei”, vertel Bennie, bestuurder van ’n maatskappy wat boumateriaal verhuur. “Ek koop soms pette, ander kere kry ek dit weer geskenk.” Toe sy kinders Madeleine (37), Cornell (35) en Jo-Marie (33) begin ouer word en van hulle oorsee gewerk het, het hulle vir hom pette van ander plekke gebring. “Vandag hang daar presies 731 pette teen my mure en aan die dak. Mense hoor daarvan, hoor ek maak dit bymekaar en dan stuur hulle dit vir my. Soms sê mense vir my hulle het baie pette, dan is dit maar 30 of 40. Dan sukkel hulle om te glo dat ek meer as 700 het!”

En moenie dink die versameling is net ’n deurmekaarspul nie! Bennie hou noukeurig boek van watter pette hy al het. “Ek rangskik dit alfabeties. Sodat as iemand vir my vra of ek al ’n Caltex-keps het, dan kan ek vinnig seker maak.” As hy wel ’n “dubbel” kry, hou hy dit om later met ander versamelaars uit te ruil.

Sy vrou Dalene (60) ondersteun sy stokperdjie en hou ook daarvan om die versameling aan mense te wys. “Sy kla net altyd die goed gaar stof op. Dis mos nou maar die nadeel daarvaan. Dan sê ek maar net ons sal dit eendag skoonmaak…”

Onder sy versameling is daar onder andere ’n pet wat Tolla van der Merwe blykbaar by die premiere van sy fliek Tolla is Tops gedra het, asook ’n Handigas-pet met die voormalige nasionale krieketkaptein Hansie Cronjé se handtekening op. “Ek het ook nogal ’n hele paar met handelsmerke op wat nie meer bestaan nie.” Van die ander besondere pette sluit in pette wat gehekel is met lasstukkies van Ohlssons en Overberg Lager bierblikkies. Nie een van hierdie bierhandelsmerke bestaan meer nie.

Mens sou dink met so ’n versameling dra Bennie permanent ’n pet. “Nee, ek dra eintlik bitter min keps. Net as ek in die son stap!”

-          Suzaan Hauman