’n Jong vrou was geskok toe sy onlangs iets in ’n bak van haar ma se visbredie sien wat soos ’n afgesnyde vinger lyk.

Die vrou van Taiwan het die foto’s aan haar familie gewys, en haar neef, Li Jiaqi, het dit in sosiale media gedeel, waar duisende mense daarvan gehou en daarop kommentaar gelewer het.

Gelukkig het dit darem toe uitgekom dit is eintlik ’n vis se swemblaas, oftewel gasblaas – die orgaan wat beenvisse help om hul dryfvermoë in die water te beheer.

Maar omdat die orgaan saam met ander bestanddele in die pot beland het, was die vrou oortuig daarvan sy het pas ’n menslike vinger in haar lepel geskep – en as jy na die foto’s kyk, kan jy verstaan hoekom.

Dit het dieselfde lengte en wydte as ’n afgesnyde vinger en selfs die benerige deel wat soos ’n vingernael lyk. Die verkrimpte orgaan lyk soos ’n vinger wat gekook is met die “vel” wat plooierig lyk.

Die vrou het met haar familie geskerts: “Kyk, my ma het haar hart en siel – en vinger – in die sop gesit.”

Internetgebruikers wat nog nie ’n swemblaas gesien het nie, was “oortuig” daarvan dat dit ’n afgesnyde vinger is en baie min het van hulle verskil.

Magazine Features