Maar ongelukkig gebeur sulke dinge en in ’n woonstelblok in die ooste van Pretoria was die inwoners omtrent op hol gewees toe ’n wipneuskobra in hul rioolstelsel beland.

Donderdag het Anton Meijer, ’n inwoner, op Twitter foto’s en ’n video van die ongewenste gas geplaas.

“Ons kort die Doom-profeet. Hulle het ’n slang in een van die woonstelle in my kompleks gevind,” het hy geskryf.

Die slang van sowat 2 m lank het glo in die woonstelblok se pype beland en by ’n toilet in een van die woonstelle probeer uitkom. Die bestuur het ’n slangvanger ingeroep om die slang uit die rioolstelsel te probeer kry.

Op die video sukkel die slangvanger om die voorkant van die glibberige kalant uit die toilet te kry terwyl ta hom met sy sterk kronkels in die pyp vaswig. “Die slangvanger onsuksesvol. Hy is terug in die rioolstelsel,” het Anton later getwiet. Intussen het die bestuur van die kompleks op hul WhatsApp-groep ’n waarskuwing aan die inwoners gerig en hulle aangeraai om hul toiletbak en badkamerdeur dig toe te hou.