Volgens die Guinness World Records word die langste bedekte waterglybaan in Duitsland aangetref.

Die Magic-Eye is in Mei 2007 voltooi en 22 m hoog. Dié prettige waterrit is vol kinkels en ’n treffer onder die jillende jongspan wat papnat aan die ander kant van die tonnel uitgespoeg word.

Terwyl die Magic-Eye betreklik mak lyk, sal die Zero-G Mountain Creek-waterglybaan by Action Park in New Jersey jou asem wegslaan. Eers val jy ’n volle 90 grade; dan word jy deur twee lusse (“loops”) gejaag voor jy weer daglig aanskou.

By die einste Action Park word die langste waterglybaan aangetref. Die glybaan is byna 602 m lank. ’n Kort aanlopie is al wat jy nodig het; daarna moet jy net seker maak jy verloor nie jou balans nie.

’n Mens wip ’n paar keer lekker die lug in, met selfs voldoende momentum om bollemakiesie te slaan. Senuwees van staal en sterk maagspiere is ’n vereiste vir hierdie uitdaging.

In Perth, Australië, is die hoogste opblaas-waterglybaan. Sien jy kans om van ’n hoogte van 23 m sonder enige beskerming of harnas loodreg teen ’n gekke spoed afgevoer word voor die glybaan uitplat? Kyk die video en besluit dan.

Natuurlik is Amerika bekend vir die “alles-groter-alles-beter”-leefstyl. Soos die Verruckt-glybaan in Kansas City van 51 m hoog. Die eerste 17 verdiepings val jy teen 60 grade, dan skiet jy die hoogte in en val weer 18 m. Die rit duur net 10 sekondes en jy kan tot 104 km per uur deur die water ploeg. As dit jou enigsins gerusstel: wrywing en gravitasie sal keer dat jy uit- of afval.

As jy jouself in Londen, Engeland, bevind, kan jy dalk hierdie glybaan op die proef stel. Dis amper 177 m hoog, met 12 kinkels terwyl jy teen sowat 24 km per uur na benede tuimel. Dit is onseker of jy kans gaan kry om die omgewing te beloer tydens die rit wat 40 sekondes duur.

Hoe gemaak as jy ’n moeilike baas het op die 69ste verdieping en jy bevind jou op die 73ste verdieping (305 m bo die grond) van die hoogste gebou in Los Angeles? Wel, die Skyslide maak dit soveel makliker. Gryp jou baadjie en gly. Letterlik.

Aan die buitekant van die gebou is ’n glybaan van glas, glo sterk genoeg om orkane en aardbewings die hoof te bied.

Nota aan selfieslawe: Pak jou selfiestokkie in.

Bronne: wikipedia.com, fortune.com, huffingtonpost.com, guinnessworldrecords.com