Een oggend nie lank gelede nie lui Patricia Senatla van Riebeeckstad in Welkom se huistelefoon om vieruur. Dis haar seun, heelpad uit Londen.

“Ma!” juig hy. “Ek het dit gekry! Ons is die beste in die wêreld.”

En so het Patricia uitgevind Wêreldrugby het haar 23-jarige seun, Seabelo Senatla, as sewesrugbyspeler van die jaar aangewys.

sen

“Toe my ma die nuus kry, het sy mal gegaan,” onthou Seabelo. Almal in die huis was wakker en van verder slaap was daar geen sprake nie.

Met 66 vyfpunters was hy in die afgelope Wêreldreeks die voorste driedrukker. Hy was ook die speler wat die naasmeeste punte aangeteken het: 330. En hy het die meeste breekslae gehad: 72 keer het hy sy aanvallende opponente gefnuik.

En as die res van Suid-Afrika so trots is, kan ’n mens net dink hoe breëbors almal in Welkom rondloop. Wanneer sy ouers nie langs die veld staan om sy wedstryde te kyk nie, is hulle voor die televisiestel vasgenael. Sy pa, Bery, sing en dans wanneer Seabelo hy ’n drie druk. Sy ma huil van trots.

[caption id="attachment_148787" align="aligncenter" width="600"]Bery en Patricia Senatla. Bery en Patricia Senatla.[/caption]

Vriende inspireer die jong rugbyspeler ook. Soos Wayde van die Niekerk (24), wat pas aangewys is as die topmansatleet by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro.

“Toe ons o.17 deelgeneem het, het ons by die Vrystaatse kampioenskapsbyeekoms teen mekaar gehardloop,” verklap Seabelo. “Ek het darem tweede gekom.”

Seabelo Mohanoe Senatla is in 1993 in Welkom gebore. Seabelo beteken opopffering en Mohanoe weerstand.

Sy pa het aan hulle vriend en Welkomse joernalis en fotograaf, Molly Green, vertel hy was ’n woelig knapie.

“As hy die kans gekry het, het hy uitgeglip en in die strate van die woonbuurt rondgehardloop; altyd op soek na maatjies. Sy ma en ouma, Miriam, moes behoorlik bontstaan om hom te vang en huis toe te vat.

As klein seuntjie het hy ’n geweldig voorliefde vir suiker gehad.

“Ons moes die suikerpot bo-op die kombuiskas wegsteek, maar Seabelo het ’n plan gemaak en stoele oopmekaar gestapel om die suikerpot by te kom, vertel Bery. Deesdae is Seabelo nie ’n groot eter nie. Hy verkies hoender en vis bó vleis.

Bery het later self eiehandig vir die gesin ’n huis in Riebeeckstad gebou en Seabelo het sy skoolloopbaan by die Laerskool Aurora in Welkom begin. Hy het ’n leerling van die Laerskool Koppie Alleen in Riebeeckstad geword en het in rugby, sokker, krieket en atletiek uitgeblink. Hy was ook lid van die Griffons se Laerskole Cravenweekspan.

senhuis

“Hy het niks van verloor gehou nie. Ek het toe maar sy atletiekafrigter geword,” vertel Bery. “Daar was ’n stuk oop veld voor die huis in Riebeeckstad en vandat Seabelo twaalf jaar oud was, moes hy daagliks twaalf keer om die veld hardloop. Dié stuk veld is groter as ’n rugbyveld.”

Later het hy by die Hoërskool Riebeeckstad in Welkom in atletiek uitgeblink. Hy was ’n naeloper van formaat.

Ná matriek het hy by die destydse Harmony-sportakademie op Virginia aangesluit. Toe Neil Powell, afrigter van die Bokke se sewesspan, hom raaksien, het sy sewesrugbyloopbaan begin. Nou woon hy saam met sy spanmaats op Stellenbosch.

[caption id="attachment_148788" align="aligncenter" width="600"]'n Trotse Bery. 'n Trotse Bery.[/caption]

Hy is ook ’n slimkop en het ’n onderskeiding in wiskunde in matriek behaal. Bery sê sy seun gaan beslis verder studeer. Hy wil ’n B.Comm-graad in rekeningkunde verwerf.

Seabelo tree dikwels by skole as motiveringspreker op. Die boodskap wat hy gewoonlik oordra is dat ‘n mens alles deur Christus kan doen . “Christus gee ons die krag.” Van Seabelo se geraamde Springboktruie word dan uitgeloot en die opbrengs word aan die kerk geskenk.

Seabelo meen die dissipline wat hy by sou ouers geleer het, het ook heelwat tot sy sukses bygedra. Bery (54) is ’n kolonel in die polisie se speurdiens en Patricia (51) werk by die departement van onderwys.

“Jy kan net dink hoe alles in ons huis gedoen is – volgens die boek. Dit was goed vir ons.” Senatla se suster, Pulane (28), is ’n chemiese ingenieur by Eskom in Witbank, terwyl sy broer, Katleho (20), ’n leerder aan die Hoërskool Riebeeckstad is.

FOTO'S: MOLLY GREEN

EKSTRA BRONNE: RUGBYWORLD.COM, EN.WIKIPEDIA.ORG