Dit was een van hul gelukkigste en laaste oomblikke saam – en dis op video vasgevang.

mundomain

Die video is net een van die herinneringe wat Mike Vosloo (46) van Springs oor het nadat sy geliefde langbeentienerdogter, Mundolene (17), net meer as twee gelede op 5 Oktober tydens die afgelope skoolvakansie dood is. Haar stiefma, Marietjie (33), is in aanhouding in verband met die voorval.

“Sy was ons aardse engel en baie liefdevol,” vertel Mike bewoë aan Huisgenoot terwyl hy steeds tot verhaal probeer kom.

Lees ook: Wat weet ons tot dusver oor die raaiselagtige dood van Mundolene Vosloo?

In ’n kort videogreep wat Mundolene tydens die vorige skoolvakansie by sy huis op Margate in KwaZulu-Natal op haar selfoon vasgevang het, deel sy en haar pa ’n spesiale oomblik. Mundolene, wat baie lief was vir musiek, speel ’n liedjie terwyl Mike soos ’n vampier na haar nek hap.

In die video hoor ’n mens die borrelende lag en sien die sprankelglimlag van Mundolene, wie se lewe so tragies kortgeknip is. Haar familie en vriende het tydens ’n roudiens in Springs van haar afskeid geneem.

Kyk ook: Hartverskeurende toneel by Mundolene Vosloo se begrafnis ná Mauritius-tragedie

“Daar vloei die trane weer,” skryf Mike per WhatsApp. “Ek gaan dit nooit weer op aarde beleef nie.”

Hy voeg by: “Ai, ek mis my kind so baie. Dis so erg, woorde kan dit nie beskryf nie. Sy en haar twee boeties (11 en 14 jaar) was my lewe. Ek wens so ek kan wakker word uit die nagmerrie.”

Marietjie is steeds agter tralies in Mauritius, waar sy eersdaags sal hoor wat die aanklagte teen haar is. Sy gaan probeer om op borgtog vrygelaat te word. Die verhoor sal op die eiland plaasvind.

KYK DIE VIDEO HIER: