Ons het ’n paar grillerige spinnekoppe in Suid-Afrika – maar dis niks in vergelyking met dié in Australië nie! Kyk maar net dié grillerige video.

’n Video van ’n reuse-jagspinnekop wat ’n dooie muis wegdra om te eet, het soos ’n veldbrand op die internet versprei en is al meer as 7 miljoen keer gekyk.

Jason Womal van Queensland, Australië, het die beeldmateriaal, wat beide ontstellend en ongelooflik is, op Saterdag 22 Oktober verfilm.

“Ek was oppad werk toe, toe my buurman vra: ‘Wil jy iets koel sien?’ en ek sê toe natuurlik,” het Jason Womal op Facebook vertel. “Ons is na sy huis toe en toe wys hy dit vir my.”

Gelukkig vir die spinnekop ly Jason nie aan aragnofobie nie. “Oukei, ek laat weet net vir almal die spinnekop is oukei,” het hy geskryf by ’n foto van sy agtpotige pel.

“Ons het hom Hermie gedoop, ons het hom aangeneem en hy bestuur nou sy eie uitroei-besigheid in ons dorpie Coppabella. En terloops, hy betaal nou huurgeeld ook. Lol.”