Staan nader, aanhangers van The Jungle Book! ’n Nuwe fliekweergawe van die avonture van Mowgli, sy beervriend Baloo en die swart luiperd Bagheera is binnekort hier. As lusmakertjie is die eerste vollengte lokprent pas uitgereik.

Dié geliefde storie van Rudyard Kipling is al telkemale vantevore vir die grootskerm verwerk, insluitend die gewilde Walt Disney-strokiesprentweergawe van 1964.

En kyk mens na die nuwe lokprent, lyk dit of die storie nog net so asemrowend en bekoorlik gaan wees soos voorheen.

Met sy indrukwekkende effekte en bobaas-aksietonele, wys regisseur Jon Favreau (Iron Man) daar steek heelwat in die storie van Mowgli, die seuntjie wat deur wolwe grootgemaak is.

via GIPHY

Die vreesaanjaende tier Shere Khan (Idris Elba) hou nie daarvan dat mense nou in die oerwoud woon nie, en wil vir Mowgli daar weg hê. Gelukkig kom Bagheera (Ben Kingsley) en Baloo (Bill Murray) tot die seuntjie redding.

Lees ook: Oe-la-la kyk net só ‘n sexy Tarzan!

Tydens Mowgli se grootwordjare ontmoet hy verskeie gediertes in die oerwoud, insluitend Kaa, die reusagtige luislang aan wie Scarlett Johansson haar stem verleen.

Aanhangers kan ook uitsien na die gewilde liedjie The Bare Necessities wat weer sy verskyning in die nuwe prent gaan maak.

En glo dit of nie, een nuwe verwerking van The Jungle Book is duidelik nie genoeg vir Hollywood nie. Aanstaande jaar word nóg ’n prent, die keer ’n oorsprongsverhaal van Mowgli, uitgereik.

Lees ook: Keer terug na die wonderwêreld van Harry Potter in nuwe lokprent

Andy Serkis, die man agter sulke karakters soos Gollum van Lord of the Rings en Caesar in Rise of the Planet of the Apes, skuif vir die eerste keer in die regisseurstoel in vir dié avontuur.

Al wat ons weet is: kry die kinders, oud en jonk, reg vir ’n familie-uitstappie fliek toe!

via GIPHY

Hier is ’n paar kitsfeite oor The Jungle Book waarvan jy dalk nie bewus was nie:

  • Die Engelsman Rudyard Kipling het in 1894 die eerste reeks kortverhale oor Mowgli se avonture die lig laat sien.
  • Dit was sy idee om diere te gebruik wat morele lesse oordra wat tot vandag uiters relevant is.
  • Bruce Reitherman, die stem van Mowgli in Disney se animasieprent, vervaardig deesdae natuurdokkies.
  • Walt Disney het tydens die vervaardiging van die fliek in 1964 gesterf.
  • Voor sy dood het Walt duidelike instruksies aan sy animasie-span gegee om van die boek se donker dele by die fliek uit te sluit.
  • Die vervaardigers wou aanvanklik hê die gewilde sangroep The Beatles moes die stemme van die Britse aasvoëls verskaf.
  • Rudyard het inspirasie vir die karakters se eienaardige name in Hindoe gekry. Baloo beteken beer, Bagheera beteken luiperd, Hathi beteken olifant en Shere Khan beteken tier-koning.
  • Nóg ’n gewilde liedjie uit die produksie, Trust in me was oorspronklik geskryf vir Mary Poppins, maar is nooit daarin gebruik nie.

Ander stories op Huisgenoot.com

Nóg Oscar-benoemde rolprente begin dié naweek wys

EKSKLUSIEF: Modder en Bloed se amptelike lokprent is hier!

Kyk na dié koel vermengings van epiese danstonele uit die flieks

Boetiekbier en vonke wat spat in nuwe Afrikaanse rolprent