Wat is die snaaksste affêre wat jy nog op ’n snelweg gesien het? Wel, as jy jou op 7 Oktober in Switserland bevind het, is hierdie video sweerlik boaan die lys van snaakse oomblikke.

Die allerlaaste wat ’n man verwag het toe hy in Switserland van ’n woelige snelweg aftrek om met iemand te gesels, is dat sy motor nie gaan saamspeel en ewe geduldig vir hom sit en wag nie. Toe die arme man weer sien, trek sy motor al amper in middelste van ’n driebaansnelweg. Sonder hom agter die stuur!

Hy hardloop verbete agterna, maar sy eiewys motor bots teen die reling voor hy dit bereik. Pleks dat die motor tot stilstand kom, kies dit koers na die ander kant van die pad, met die desperate bestuurder warm op sy hakke.

Genadiglik het die ander padgebruikers besef dis nie ’n onnosele bestuurder se handewerk nie; die man wat so rondhardloop, het werklik probleme. Almal ry stadiger en laat hom en sy motor die pad oorsteek.

Alles kom tot ’n einde toe die motor se neus ’n padpredikant vind en knus daarteen bly staan. Wat ’n  drama! En dit net omdat die bestuurder vergeet het om die noodrem op te trek.

Vertel ons gerus op Facebook van die vreemdste en snaaksste voorvalle wat jy al op pad teëgekom het.