As jy skrikkerig is vir slange, moet jy liefs nie verder lees nie.

Die ernorme reptiel het na wat berig word meer as 400 kg geweeg en 'n omtrek van 'n meter gehad. Die anakonda is gevind ná werkers 'n beheerde ontploffing by 'n grot in die Alramira-streek in die noorde van Brasilië uitgevoer het as deel van bouwerk aan 'n nuwe dam.

Van die werkers het die slang met kettings vasgebind. In 'n video kan gesien word hoe die reuse-anakonda aan 'n hyskraan opgehang word.

Die video, wat opgelaai is deur die YouTube-gebruiker Alexandre Flores, is wyd gekritiseer omdat dit die konstruksiewerkers se wrede gedrag teenoor die slang gewys het.

Dit is onduidelik of die werkers die slang doodgemaak het, maar die dier lyk op 'n kol bewusteloos of dood waar dit vasgeketting agterop 'n trok lê.

Een YouTube-gebruiker het by die video geskryf: "Ek is nie seker of hierdie video eg is nie, maar dis skandelik van hierdie mense om die slang dood te maak. 'n Slang wat waarskynlik vir 'n baie lang tyd gelewe het, is nou doodgemaak net vir 'n paar foto's? Wat 'n vermorsing..."

Die werkers was besig om te bou aan die Belo Monte dam, wat na voltooiing die vierde grootste ter wêreld gaan wees.

Bronne: YouTube; Daily Mail