Nalu se eienaar, Crystal Lamirade (35), was op pad terug na haar woonstel toe die bure haar inlig dat dit aan die brand is. Digte rookwolke het verhoed dat die angstige Crystal die gebou kon binnegaan om self haar geliefde Nalu te red.

Andrew moes self handeviervoet in die brandende woonstel rondkruip op soek na Nalu terwyl ’n kollega met die waterslang die vlamme van hom probeer weghou het.

Hy sê daar was nie ’n oomblik te verspil nadat hulle eindelik die bewustelose Nalu gevind het nie.

“Tyd is van die allergrootste belang, veral met ’n klein hondjie,” het hy gesê. Die volgende 20 minute het hy en sy kollegas alles in hul vermoë gedoen om Nalu weer by te bring. Hulle het hom suurstof, kardiopulmonêre resussitasie (KPR) en ook mond-tot-snoet-asemhaling, gegee.

Crystal, ’n radioloogverpleegster, het die hoeveelheid aandag en moeite wat die brandweermanne aan Nalu gewy het, as ongelooflik beskryf. Sy het geglo dit is die einde van haar geliefde Nalu. Maar Andrew het geweier om bes te gee.

Hy het luidens berigte aan haar gesê: “Ek’s ’n positiewe ou. Kom ons kry hom net terug.”

En Nalu? Ná 24 uur in ’n suurstoftenk is hy byna weer sy ou stertswaaiende self.

Bronne: staradvertiser.com, abcnews.co.com