Toegewyd – of net onnosel? Party mense sal voorwaar die ekstra myl loop vir hul beroep, maar om sonder enige veiligheidstoerusting teen die kant van ’n gebou te hang, neem toegewydheid aan jou werk dalk net ’n stappie te ver. Wiktoria Odintsowa het onlangs die modelwêreld geskok toe sy tydens ’n fotosessie oor die kant van die Cayan-toringgebou in Doebai hang – sonder ’n enkele veiligheidstou of vangnet in sig.

Dié Russiese model (in haar vroeë 20’s) het onlangs vir ’n rits foto’s op die toring poseer. In een hang sy agteroor oor die kant van die gebou terwyl ’n onbekende man haar vashou. In ’n video wat die model op haar Instagram-blad gedeel het, kan jy ook sien hoe sy sonder enige toerusting teen die kant van die gebou afhang. Net die man keer dat sy val. “Ek kan nie glo ek het dit gedoen nie. Elke keer dat ek die video kyk, raak my handpalms sweterig,” het sy op Instagram gesê.

Met haar meer as 3 miljoen volgelinge op dié platform het Wiktoria se video blitsvinnig versprei.

Maar nie almal het gedink dit is so wonderlik nie. Wikoria het onder hewige kritiek deurgeloop; talle van haar aanhangers het uitgewys sy kon dood gewees het as iets sou skeefloop.

“Hoe kan jy jou lewe so minag?” het een gevra. “As ek jou ouer was, sou ek jou en die man met die baard gewiks het!”

“Wat ’n swak voorbeeld stel jy vir vandag se jeug,” het ’n ander laat hoor.

Dit is onduidelik of Wiktoria toestemming gehad het om dié gevaarlike fotosessie op die wolkekrabber aan te pak.

Die Cayan-toring is 306 m hoog en het in 2013 sy deure oopgemaak.