Dramatiese beeldmateriaal wys die skrikwekkende oomblik toe die vulkaan Etna in Sisilië, Italië, Donderdag onverwags besluit het om haar stem dik te maak.

Minstens tien mense – onder wie wetenskaplikes, toeriste en joernaliste, het tydens die kragspel beserings opgedoen. Hulle is deur vulkaniese as en rots gepeper en moes tussen vallende brandende rotse die hasepad kies terwyl hulle kokende stoom probeer ontduik.

Rebecca Morelle van die BBC-kameraspan het naelskraap ernstige brandwonde vrygespring. Die baadjie wat sy aangehad het ten tye van hul angstige vlug teen die berghang af, vertel die verhaal van hoe hoog die risiko op beserings was.  

Dié vulkaan is die grootste en aktiefste in Europa. Etna was ongeveer twee jaar laas betreklik onrustig, maar ’n paar diep gromme is glo die laaste paar weke uit die maag van die skouspelagtige natuurverskynsel gehoor. Die vulkaan is sowat 3 330 m hoog. Die laaste groot uitbarsting was in 1992. Daar is nog twee groot aktiewe vulkane in die land van pasta en pizza – Vesuvius en Stromboli, waarvan Vesuvius, buite Napels, die enigste vulkaan op die vasteland is. Etna en Stromboli is op eilande geleë. Save