Die eerste foto van die vermeende bestuurder wat met ’n trok tussen mense in Stockholm ingejaag het, is nou vrygestel.

Luidens berigte is die trok by ’n restaurant gekaap voor die dodelike rit. Die Sweedse eerste minister, Stefan Lovren, het intussen glo aangedui dat die voorval 'n terreur-aanval was. In hierdie stadium is die Sweedse parlement asook die moltreinstelsel gesluit.

Vroeër vandag

Volgens die Sweedse uitsaaidiens Ekot het minstens drie mense gesterf toe ’n vragmotor Vrydagmidddag in ’n groep mense in Stockholm vasgejaag het.

Daar is glo ook skote afgevuur ná die voorval. Luidens berigte is die skote elders afgevuur. Die vragmotor is ook vermoedelik voor die voorval gesteel.

Martin Svenningsen, ’n verslaggewer vir P4 Extra, het gesê hy het gesien hoe die trok in die mense vasjaag.

Alhoewel daar nog onduidelikheid is of dit bloot 'n ongeluk of iets meer sinister is, word daar onwillekeurig herinner aand die twee terreurvoorvalle wat verlede jaar in Nice (Frankryk) en Berlyn (Duitsland) plaasgevind het. Volgens RTLNieuws was Linda van der Pol op die toneel toe die voorval plaasgevind het. “Ek het pas na buite geloop toe dit gebeur het. Ek het ’n rookwolk in die straat sien hang, afkomstig van ’n voertuig. Ek het voertuigspore op die pad gesien. Dis ’n motorvrye pad (vir voetgangers bedoel) en ek het gedink dat ek dalk iets gemis het. “Toe ek verder stap het ek slagoffers in die straat sien lê, ook kinders. Huilende mense het na ons kant toe gehardloop. Dit was aaklig,” het sy gesê.

Vroeër vandag

’n Ooggetuie het aan die Aftonbladet vertel dat sy honderde mense sien spaander het om hul lewens te red.
Nog ooggetuies het vertel van verskeie liggame wat in die straat lê. Die voorval het in Drottninggatan (Koningingstraat), een van die stad se grootse voetgangerstrate, plaasgevind. In hierdie stadium is dit onseker of dit bloot ’n ongeluk was of dalk ’n daad van terreur.
Nog ’n persoon beweer dat daar skote gevuur is.

Bronne: sputniknews.com, bbc.com, telegraph.co.uk , rtlnieuws.nl