Berigte word ontvang dat minstens een persoon dood is en soveel as 33 ander beseer tydens ’n enorme opeenhoping van motors op die N12 net oos van Putfontein naby Benoni. Ander bronne meld tot soveel as 60 mense is beseer, maar dit kon nog nie bevestig word nie.

Netcare911 se Chris Botha het gesê dis in hierdie stadium nog onduidelik presies wat die ongeluk vroeg Dinsdagoggend veroorsaak het. Volgens hom het die beseerdes van geringe tot ernstige beserings opgedoen. "Die hele hoofweg is gesluit en ons vra motoriste om weg te bly tot noodpersoneel die toneel hanteer het."
Volgens News24 was 29 motors in die ongeluk betrokke en is dit moontlik deur digte mis in die omgewing vroeg Dinsdagoggend veroorsaak.
Die betrokke voertuie sluit motors, vragmotors en minibustaxis in. Die beseerdes is na omliggende hospitale geneem.