Die historiese 'It's Time'-saamtrek buite Bloemfontein het Saterdag miljoene Suid-Afrikaners van oor die hele land bymekaargebring.

Op sy webtuiste beskryf die boer en prediker Angus Buchan die doel van die saamtrek as volg: “Ons gaan ons op die Here beroep om geregtigheid, vrede en hoop na ons geliefde Suid-Afrika te bring.”
Verkeer na Bloemfontein het van vroegoggend af al teen ’n slakkepas gevloei. Die saamtrek word op die plaas van oud-Springbok Ollie le Roux gehou.
Talle bekendes het ook deurgekom vir dié biddag, onder andere Michael Mol, Heinz Winckler en die Blitsbokafrigter, Neil Powell.

Ander, soos Bobby van Jaarsveld en AB de Villiers, het hul opgewondenheid oor die saamtrek op Twitter gedeel.

Angus sou volgens die program om twaalfuur vanmiddag begin praat het, maar dit moes uitgestel word na eenuur toe.