Die akteur Theodore Jantjies, 7de Laan se Xander Meintjies, het Dinsdag ’n video op Instagram gedeel van ’n onbekende man wat mense by ’n kleedrepetisie in Heidedal, Bloemfontein, met sy lieflike stem bekoor. “Ek het geen idee wie die man is nie. Iemand het dit net vir my op WhatsApp gestuur. Ek moes dit dadelik deel omdat die man so ’n mooi stem het,” vertel Theodore.

Die groep 156, wat bestaan uit Bevin Samuels, Loyiso Gijana en Keegan Martin, het ’n kleedrepetisie vir een van hul konserte in Bloemfontein gehad toe ene Jacques die saal binnestap en vra of hy ook kan sing.

Aanvanklik moes die groep eers hul eie kleedrepetisie voltooi voor hy die verhoog kon oorneem.

“Ons weet sy naam is Jacques; verder weet ons niks van hom nie. Ons het almal video’s geneem toe hy begin sing. Toe ons sy stem hoor, het ons dadelik besluit hy moet die Vrydagaand saam met die groep sing,” vertel Zaakira Allen, 156 se bestuurder.

Jacques het die lede van 156 se stemme herken nadat hulle al drie in verskeie seisoene van die sangkompetisie Idols verskyn het.

Die video is reeds meer as 1000 keer gekyk.