In die diereryk is dit gewoonlik die mannetjie wat die kleurryk rol speel, maar Amerika se nuwe president moet ’n tree terugstaan vir sy vrou wat die mode betref. Melania (46), ’n oudmodel, het dwarsdeur die verkiesingsveldtog haar beste modevoetjie voorgesit en sy slaan omtrent die asem weg met haar keuses.

A photo posted by Adam Lundy (@adamlundy1031) on

  Die voormalige Sloweense model kies ernstige maar sexy uitrustings vir die politieke verhoog, met kleurblokke, ’n kragtige droogblaas-haarstyl en spykerhakke. Melania het al erken sy volg nie die mode slaafs na nie, maar is getrou aan haarself en kies waarvan sy hou. Sy hou glo van die ontwerpers Alexander McQueen, Valentino, Dolce & Gabbana en Michael Kors.

A photo posted by People O POVO (@peopleopovo) on

Sy is juis op verkiesingsdag opgemerk in ’n uitrusting wat pas by haar unieke styl – ’n lang kameelkleurige baadjie oor ’n wit rok, wat Kors ontwerp het.

Om haar man se verkiesing tot Amerika se 45ste president te vier, het Melania ’n Ralph Lauren-nommer gedra, ’n wit broekpak uit die ontwerper se jongste klerereeks.

Toe sy by ’n sportsentrum in Pennsilvanië ’n toespraak lewer, het Melania die modespyker op die kop geslaan met ’n pienk sybloes by ’n wit romp wat hoog sit.

Wit, swart en skakerings van pienk blyk onder Melania se gunsteling-modekleure te tel. Op die verkiesingsaand het Melania 'n elegante wit pakkie gedra.

  Sy het op ’n keer oor haar klerekas gesê sy is baie georganiseerd en hou daarvan dat alles volgens kleur gesorteer is, selfs die skoene. Een ding is beslis: Amerika se nuwe presidentsvrou het styl!