Duisende Amerikaners het Donderdagoggend die strate van stede soos New York, Seattle, Portland en Chicago ingevaar en slagspreuke soos "nie my president nie" gegil.

In Manhattan het betogers na Trump Tower, Donald se woning, opgeruk in protes teen sy veldtog se skynbare anti-Moslem en anti-immigrasie sentiment. Die betogers het ook plakkate met woorde soos "beveg rassisme" daarop gedra.

In sommige stede het die protesaksie gewelddadig geraak. In Oakland in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië het betogers winkelvensters uitgeslaan en voorwerpe na die polisie geslinger wat die skare in beheer probeer bring het.

In Chigago moes die polisie blokkades opstel om die sowat 1,800 betogers te keer om buite die Trump Internasional hotel te vergader. "Nee, Trump! KKK! Geen rassisme in die VSA!" het hulle luidkeels gegil.

In Los Angeles het skoolkinders uit klaskamers geloop en ’n optog na die burgemeesterskantoor gehou. Daar het hulle ook vir Donald as ’n rassis afgemaak en benadruk hy is "nie hul president nie".

Nóg Donald nóg sy bestuurders het op die betogings gereageer. Hy ontmoet later vandag met pres. Barack Obama in die Withuis om die oorgandiging van mag tussen die uitgaande en inkomende presidente te bespreek. Donald word 20 Januarie as die 45ste president van Amerika ingelyf.

Tydens sy oorwinningstoespraak het die Republikein gesê hy sal ’n president vir "alle Amerikaners" wees en bygevoeg "dis tyd dat ons as ’n verenigde nasie bymekaar kom".

Bronne: CNN; Sky News