Hy het opgemerk baie van die klere waarvan sy ontslae wou raak, was XL-groottes.

Dit “het nie reg gelyk” vir hom nie omdat hy min of meer dieselfde grootte as sy meisie is en klein of middelslaggrootte klere dra.

“Ek is nie ’n groot man nie, en belangriker nog, ’n vrou so groot soos ek is nie ’n ekstragroot vrou nie,” skryf Benjamin (26) van Pennsilvanië op Facebook in ’n inskrywing wat intussen vinnig op die internet versprei het.

Hy het ook twee foto’s gedeel waar hy sy meisie se tops dra om die “belaglike” verskil tussen groottes vir mansklere teenoor vroueklere uit te lig.

Lees ook: Kuldae kan jou help om gewig te verloor, meen kenners

“Dit pas my. En ek sê dit nie om laf of ironies te wees nie. Hierdie soort twak is hoekom jy agtjariges met eetsteurings kry. Hierdie twak is hoekom mans vir meisies met ’n bietjie kurwes ’n ‘vet vark’ noem,” skryf hy in die inskrywing wat reeds sowat 290 000 keer gedeel is.

“My punt gaan nie oor die grootte nie,” het hy geskryf in reaksie op mense wat daarop gewys het dat kleregroottes oor die jare groter geraak het weens die toenemende vetsugsyfer.

“Dit gaan oor die verskil tussen groottes vir mans en vroue. Die feit dat ek in ’n klein manstop en ’n ekstragroot top vir vroue pas, is seksisme. En dit lei tot liggaamshaat.”

Benjamin, wat in ’n pakhuis werk, het later aan Today gesê die woord “ekstra” of “plus” laat seksisme voortbestaan.

Lees ook: Hierdie plusgrootte-model het die volmaakte antwoord vir mense wat ander se lyf afkraak

“Groottes met die woord ‘ekstra’ daarin sal iemand altyd laat voel hulle is aan die verkeerde kant van die spektrum. Dit maak nie saak of dit ’n ekstragroot- of ekstra-klein item is nie. Ek dink albei is aaklig.”

Die meeste van die terugvoer wat Benjamin ontvang het, was positief. “Dis gek,” sê hy.

“Ek het boodskappe van regoor die wêreld gekry van mense wat my bedank. Dis ongelooflik. Daar was ’n paar suurknolle, maar die oorgrote meerderheid was uiters positief en ek kan nie my waardering genoeg daaroor uitdruk nie.”

Bronne: facebook.com, today.com

Ander stories op Huisgenoot.com:

Kyk: Omstrede swemvideo het ouers warm onder die kraag

Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

Hierdie gr. 2-wiskundevraag slaan almal dronk – kan jy dit oplos?

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou