Terwyl militêre magte hommeltuie vir verskeie doeleindes inspan, het een man syne gebruik in ’n oorlog van ’n ander aard: die egbreuk van sy vrou.

Die YouTube-gebruiker YAOG het hond se gedagtes oor sy vrou se vreemde optrede gekry. Skielik moes sy meer gereeld vroeër werk toe gaan. Toe kry hy ’n oproep van iemand om hom te waarsku dat alles nie pluis is nie.

Luidens die beskrywing by die video het hy haar te voet werk toe gevolg. Maar sy het gedoen wat sy gesê het sy gaan doen – om te gaan werk.

Tog was YAOG allesbehalwe gerusgestel deur haar optrede. Sy volgende stap was om tegnologie nader te hark in die vorm van ’n hommeltuig.

Die resultaat van sy valkoogspioenasie het YAOG se ergste vermoedens bevestig. En hy is allesbehalwe gelukkig daaroor. Hy raak behoorlik opgewerk terwyl hy kommentaar op sy spioenasievideo lewer. “Kyk mooi, jy kan dit dalk misloop. Jy gaan sien hoe ’n huwelik van 18 jaar net so weggesmyt word,” sê hy terwyl sy stem ’n paar oktawe klim. Daarna neem emosies die oorhand.

Weet jy van iemand wat sy of haar maat op ’n soortgelyke manier vanuit die lug gevolg het? Deel jou storie met ons by web@huisgenoot.com