Kort voor die aanval op die hooggeregshof in Caracas het ’n man wat homself as Oscar Pérez geïdentifiseer het in 'n video uitgevaar teen sy land se “kriminele regering”.

Later is gesê vier granate is van die helikopter af gelanseer: twee was vir die hoofgebou bedoel en twee teen die nasionale wagte wat die gebou beskerm het.

Pérez het te kenne gegee hy het die helikopter beheer.

Voor die hooggeregshofaanval is daar luidens berigte 15 skote uit die helikopter op die departement van binnelandse geskiet terwyl sowat 80 mense ’n onthaal daar bygewoon het.

Die byskrif by 'n foto wat op Instagram gedeel is, sê 'n helikopter van die Cuerpo de Investigaciones Científicas, Penales y Criminalísticas (CICPC) het ’n verrassend lae vlug oor die stad uitgevoer. Oscar Pérez, na bewering 'n voormalige CICPC-kaptein, was glo aan die stuur daarvan.

Volgens Wikipedia is die CICP die grootste nasionale polisieagentskap in Venezuela en is dit verantwoordelik vir kriminele ondersoeke en forensiese dienste.

Die banier met Libert.Article 350 verwys na die land se grondwet, wat burgerlikes toelaat om “burgerlike ongehoorsaamheid” te verklaar teen enige regime wat demokratiese waarborge of menseregte ondermyn.

In die video sê Pérez ’n koalisie van militêre werknemers, polisielede en burgerlikes soek na balans en dat hulle teen die kriminele regering gekant is.

“Ons het twee keuses: Ons word môre volgens ons gewete geoordeel, of begin vandag om ons van die korrupte regering te bevry.”

Hy het ook gesê die groep eis die onmiddellike bedanking van die president en sy ministers en dat ’n algemene verkiesing dadelik aangekondig moet word.

Ernesto Villega, minister van kommunikasie en inligting, het die aanval as ’n poging tot ’n staatsgreep beskryf.

Maduro het in reaksie op die aanval gesê die “aanval deur gewapende terroriste” kon tot ’n tragedie gelei het.

Meer as 80 mense het reeds gesterf vandat die betogings vroeg in April begin het.

Dinsdag, voor die aanval, het Madura oor die 90 voorafgaande dae van geweld, vernietiging en doodslag gepraat. Maandagaand was daar een van die ergste voorvalle van plundery in dié tyd; 68 besighede in Maracay, ’n stad sowat 100 km van Caracas, het deurgeloop. Die weermag is intussen in die strate van Venezuela ontplooi.

Wat ons nie met stemme kon regkry nie, sal ons met wapens doen. Ons sal ons vaderland met wapens bevry.

Venezuela is die afgelope paar maande gekenmerk deur verskeie massa-betogings weens die politieke en ekonomiese krisis in die land. Meer as 80 mense het reeds gesterf vandat die betogings vroeg in April begin het.

Maduro het gesê die land sal tot die geveg toetree as Venezuela in 'n chaos ontaard.

“Wat ons nie met stemme kon regkry nie, sal ons met wapens doen. Ons sal ons vaderland met wapens bevry.”

Venezuela se hooggeregshof het op 29 Maart 2017 die land se parlement ontbind en dit alle wetgewende magte toegeëien. Drie dae later is die beslissing omgekeer. Dit het landwyd groot woelinge veroorsaak.

Nog oor Venezuela

  • In 1992 misluk ’n staatsgreep onder aanvoering van Hugo Chávez en hy bring twee jaar in die tronk deur.
  • In Desember 1998 word hy tot president verkies, en in 1999 stel hy ’n nuwe grondwet in.
  • Kragtens die nuwe grondwet word Venezuela se naam amptelik verander na Bolivariaanse Republiek van Venezuela.
  • Op 5 Maart 2013 sterf Chávez (58) aan kanker en vise-pres. Nocolás Maduro word tydelik as president aangestel.
  • Hy behaal met 50,8 persent van die stemme ’n skrapse oorwinning oor Henrique Capriles Radonski en wen die presidensiële verkiesing op 14 April daardie selfde jaar.
  • Die land se ekonomie is op sy knieë nadat inflasie wat in 2016 met 800 persent gestyg het.
  • Terselfdertyd het die land se ekonomie met 18,6 persent gekrimp.
  • Werkloosheid staan op 10,5 persent.