Hoe is dit moontlik dat ’n lewe binne-in jou groei sonder dat jy dit weet?

Nou ja, dit was die lot van Ashleigh Miller-Cross, wat in ’n plaaslike supermark die lewe geskenk het nadat sy onwetend nege maande lank ’n babaseun gedra het. 

En die ma vier toe die kleinman se geboorte met ’n fotosessie met die mees gepaste tema. 

Terwyl sy in April deur die gange van die Atlantic Superstore in Kanada gestap het, het Ashleigh verskriklike pyn begin ervaar. Sy het haar na die vrouetoilette gehaas, waar die pyn vererger het. 

Ashleigh het geen benul gehad sy is in kraam nie.

Die assistentbestuurder van die winkel, Malcolm Comeau, het ’n geskree uit die toilette hoor kom en haastig gaan kyk wat aangaan. 

“Ek het die deur oopgemaak en Ashleigh was daar en die baba was halfpad uit,” het hy aan " target="_blank">CBC News gesê. “Sy het net vir my geskree: ‘Ek kry ’n baba!’ en ek het outomaties my foon gegryp en 911 gebel.”

Gelukkig is daar ’n kliniek in die supermark en het Malcolm gehardloop om ’n dokter se hulp te vra. Intussen het ’n moedige werknemer ingespring om te help.

“Ek het weer ingeloer; die baba is gebore. Hy was piekfyn. Hy het asemgehaal,” sê Malcolm.

Ashleigh, wat net 10 maande gelede die lewe geskenk het aan ’n dogtertjie wat hulle Mia genoem het, het die jongste toevoeging tot die gesin, Ezra, gevier met ’n fotosessie met ’n kruidenierstema deur die plaaslike fotograaf Jen Matchett van Branches Photography.

Op die oulike kiekies lê ’n glimlaggende Ezra in ’n winkelmandjie tussen kruideniersware.

“Ek was regtig salig onbewus daarvan dat ek swanger was,” sê Ashleigh. “Ek het aangeneem ek het nie enige gewig verloor nie, want ek het Mia 10 maande gelede gehad. Ek het nie groter geword nie. Ek was net dieselfde grootte. Ek het geen kosdrange ervaar nie.”

Nadat sy met meer as net ’n sak kruideniersware by die winkel uit is, het die supermark haar en haar man, Kyle, ’n jaar se voorraad doeke gegee.  

Bronne: independent.co.uk, metro.co.uk, " target="_blank">cbc.ca