Elke ouer weet om ’n peuter te laat slaap is ’n reuse uitdaging, maar ’n ma van Durban het soos ’n wafferse James Bond dié kuns bemeester.

Caryn Morris (32) van Hillcrest het met die hande in die hare gesit elke keer dat sy haar 15 maande oue seuntjie, Brody, in sy bababedjie wou sit.

“Ons het mense by die huis gehad vir aandete. Hy kon agterkom daar is mense en elke keer dat ek by die kamer wou uitgaan, het hy gehuil,” het sy aan Timeslive gesê.

Die Morris-gesin het kameras in hul huis en een van hierdie kameras het vasgevang hoe Caryn ongesiens op haar rug uit Brody se kamer uitseil.

Haar man, Tyrone, het die video op sy Facebookblad gedeel en dit is al meer as 4000 keer gekyk.

“Die beste ding van kameras in jou huis is om te sien hoe jou vrou uit jou seun se kamer probeer ontsnap nadat sy hom neergesit het,” skryf hy op sy Facebook.

“Partykeer moet jy inisiatief neem om te ontsnap.

“Die Suid-Afrikaanse weermag wil hê sy moet opleiding gee oor hoe om die omgekeerde luiperdkruip te doen,” het hy gespot.

Bykomende bronne: TimesLive