’n Video van ’n vrou wat ’n kind in ’n restaurant in Johannesburg moker het inwoners van Fourways warm onder die kraag.

The Citizen het die video Vrydagmiddag op hul webblad gedeel.

Die voorval het glo Woensdag by ’n restaurant daar gebeur.

In die video sit ’n jong seun en eet met ’n vrou wat by hom staan. Luidens die berig is die vrou glo die kind se ma.

Kyri Tjirkos, een van die eienaars van die La Nouva-restaurant, het aan die gemeenskapskoerant Fourways Review gesê die vrou besoek die eetplek gereeld.

Volgens Kyri het die seun gestremd voorgekom. Die vrou het hom probeer pasta voer.

“Die seun het nie behoorlik geëet nie; dalk wou hy nie die kos gehad het nie. Die vrou het gefrustreerd geraak en die seun teen sy voorkop begin slaan en hom probeer dwing om te eet.”

Ander klante het die vrou aangespreek oor haar optrede. Maar sy het glo teen almal om haar uitgevaar. Sy het selfs een van die tafels omgekeer en borde gebreek.

Volgens Kyri het veiligheidswagte van die Gardens-inkopiesentrum opgedaag en die seun probeer troos.

Die restaurant-eienaars het intussen die vrou se man gekontak en met hom vergader oor die seun se welstand.

Kyri het ook aan Fourways Review gesê dat die vrou van hul restaurant verban is en dat hulle stappe gaan neem as die kind se pa nie die situasie gepas hanteer nie.

Waarskuwing: Die video mag sensitiewe kykers ontstel