Die 89ste uitdeling van die gesogte goue beeldjies het die wêreld laat gons – moontlik om al die verkeerde redes. Maar hierdie ma en haar oulike kinders laat ’n mens met nuwe oë kyk na Hollywood se groot glansaand.

Maggie Storino het ’n baie spesiale manier uitgedink om eer te betoon aan die uitblinkers van die silwerdoek – en Sophia (6), Sadie (4) en die eenjarige Sloane help haar.

Dié ma van die stad Chicago herskep al sewe jaar lank tonele uit die flieks wat jaarliks benoem word vir Oscars, met haar drie fotogeniese dogters as die sterre.

Maggie vertel aan Vanity Fair dat sy tydens die herskepping van ’n toneel uit die rolprent Hidden Figures vir haar vierjarige en die spannetjie gesê het: “Sadie, jy’s ’n bietjie omgekrap, maar nie kwaad nie. Julle ander, kyk na die handlangers wat ek op hierdie koerant geplak het.”

Sadie tree vir die foto op as Katherine Johnson, Viola Davids se karakter, en sy word vergesel van 32 kindertuinkinders wat die uitbeelding help moontlik maak.

Die tradisie het in 2010 begin. Maggie het aan Vanity Fair vertel die dogtertjies “(sien nou uit na) die Oscar-tyd soos na ’n vakansie”. Die gesin se fotosessies begin sodra die benoemdes aangekondig word. Maggie deel haar foto’s op haar blog, Don’t Call Me Oscar, sowel as op ander sosialemediaplatforms, soos Instagram en Tumblr. Volgens The Daily Mail was Sloane verlede jaar net agt maande oud toe sy in haar eerste fotosessie optree as Matt Damon in The Martian, een van die prente wat in 2016 benoem is.

Die kleingoed het al sterre soos Emma Stone, Nicole Kidman en Viola Davis nageboots – en dit verstommend goed reggekry. Die akkuraatheid en detail wat in hierdie oomblikke vasgevang word, is onverbeterlik. Maggie en haar dogters het dit nou reeds die sewende jaar agtereenvolgens reggekry om die tonele verbasend getrou vas te vang. Kyk mooi na die herskepte tonele uit rolprente wat benoem is en dié wat Oscars gewen het – hulle sal jou hart verwarm. Fences
Hidden Figures
Moonlight
La La Land

Bronne: News Posto, Vanity Fair, Daily Mail, Huffington Post