’n Lomp klant het hom onlangs op die Britse dorp St. Austell in Cornwall lelik vasgeloop. Hy was by ’n winkel wat elektroniese toestelle verkoop, maar toe loop sake lelik skeef.

Die arme ou wou nog een van die reuseskerms van naderby beskou, toe stamp hy binne drie sekondes per ongeluk vier slimtelevisies om. Meer as R85 000 se skade is aangerig. Die hele nagmerrie is op die winkel, HBH Woolacotts, se kringtelevisiekameras vasgevang.

Die beeldmateriaal wys hoe die onbekende knaap nader staan om die televisies te bekyk wat by die winkel se ingang uitgestal is. Toe hy op sy knieë voor een van die stelle neersak, waarskynlik om óf aan die geboë skerm te raak of dalk die beheerknoppies, stamp hy dit per ongeluk om.

Met die valslag tref die TV nog een. Toe die lomperd vervaard opstaan, stamp hy nog ’n TV om, en asof dit domino’s is, tref dié TV ook nog een. Binne sekondes vier televisiestelle tot niet.

Die man staan eindelik verslae en toekyk terwyl die winkelpersoneel nader staan om die skade te besigtig.

Kyk die video hier:

“Die personeel was platgeslaan,” sê Mike Collins, assistentbestuurder van die winkel.

“Ek was daardie dag met verlof, maar het ingekom en die beeldmateriaal gekyk,” vertel hy. “My bestuurder het net gesê: ‘Jy sal nooit raai wat gebeur het nie.’ Ek was baie geskok.”

Onder die peperduur televisies wat beskadig is, was ’n Samsung met ’n geboë skerm en twee Panasonics. Mike kon nie bevestig of die klant vir die skade betaal het nie. Die winkel het die beeldmateriaal op die sosiale media gedeel. Tot dusver is dit al meer as 3,6 miljoen keer gekyk. Arme ding!

Bronne: telegraph.co.uk, mirror.co.uk, westbriton.co.uk