Die dokumentêre rolprent oor die wrede aanval en verkragting van Alison Botha meer as 20 jaar gelede is eersdaags op die silwerdoek te sien. Dit wys ook watter verreikende impak die voorval op haar lewe gehad het.

[caption id="attachment_123563" align="alignnone" width="600"]Christia Visser vertolk die rol van Alison in die gelyknamige fliek. Foto: Facebook Christia Visser vertolk die rol van Alison in die gelyknamige fliek. Foto: Facebook[/caption]

Destyds is Alison deur twee mans ontvoer en verkrag. Sy is meer as 30 keer met ’n mes in die maag gesteek, waarna haar keel gesny is. Wonderbaarlik het sy die aanval oorleef.

In die nuwe rolprent vertel sy self haar storie. Die regie is behartig deur Uga Carlini, wat sedert 2012 hieroor navorsing gedoen het.

Christia Visser (24) vertolk die hoofrol. “Dit was nogal rof,” het sy vroeër aan Huisgenoot gesê oor die ervaring om Alison te speel. Maar, verduidelik sy, rolle oor geweld teen vroue trek haar aan. “Alison moes haar demone in die oë kyk. Ek voel sulke mense se storie moet vertel word.”

"Ek het die film al ’n jaar gelede geskiet so die projek kom al lank aan," vertel Christia. "Ek kan nie wag om hierdie reis saam met Alison verder te vat nie. Sy is so ’n inspirerende mens; ek het so baie by haar en deur haar storie geleer. Ek hoop ons kan dieselfde gevoel by gehore uitlok."

De Klerk Oelofse (26), wat die rol vertolk van die verkragter Theuns Kruger, sê hy het baie op transkripsies van die hofsaak gesteun om hom vir die rol voor te berei.

Lees ook:Tinder kan lewensgevaarlik wees

“Wat my veral van Kruger onderkry, is dat hy die aand van Alison se verkragting eers gaan paartie het,” sê hy.

Zak Hendrikz, wat in Ballade vir ’n Enkeling te sien was as die skobbejak Gavin Greeff, vertolk die rol van die ander aanvaller, Frans du Toit.

Dié 32-jarige akteur stem saam met De Klerk: “Ek was so deurmekaar toe ek navorsing doen oor dié rol. Ek kon glad nie by dié mense aansluiting vind nie.”

De Klerk maak dit egter duidelik: “Die dokumentêr gaan oor Alison, die mens wat oorleef het; nie oor Frans en Theuns nie.”

Alison die rolprent word in Augustus uitgereik. Kyk hier na die roerende lokprent:

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Ons glo sy sal binne ’n dag op haar eie kan asemhaal,’ sê baba se pa ná baanbrekersoperasie

Die soektog na Madeleine McCann: hoop vlam opnuut op

Oscar Pistorius se wolhaarhondjie: Vertroetel hom wanneer tronkdeur toeklap, vra kenner

Kyk hoe blom die liefde tussen dié beminde Afrikaanse sangerpaartjie

Kyk: Sue Duminy rits die wêreld vol en deel pragfoto’s van haar reise