WAARSKUWING: HIERDIE ARTIKEL BEVAT MATERIAAL WAT SOMMIGE LESERS KAN ONTSTEL

In die jongste uitgawe van die South African Medical Journal het ’n span dokters by die ongevalle-afdeling van die Van Velden-hospitaal in Tzaneen ’n verskriklike ding aanskou.

Die span dokters moes ’n 28-jarige man help nadat hy by die hospitaal aangekom het met ’n trouring styf om sy penis gespan. Die man, wie se vrou glo kort te vore ’n baba gehad het, het saam met sy ma by die hospitaal opgedaag.

Hy het sy erg geswolle, blou geslagsdeel aan die dokters gewys. En hoewel hy in bitter erge pyn was, het sy ander lewenstekens normaal vertoon.

Penis

Die man het aan die dokters vertel sy vriende het hom aangeraai om sy trouring oor sy penis te skuif vir erotiese genot. Dinge het egter nie volgens plan verloop nie.

Hy is onmiddellik na ongevalle gejaag waar dokters bevind het die swelling was so erg dat twee pogings om die ring te verwyder misluk het.

Die mediese span moes eindelik ’n reeks inspuitings in die man se geswolle penis spuit en kon toe eers daarin slaag om die ring te verwyder. Hy is in die hospitaal opgeneem en met antibiotika en pynstillers behandel.

ring

Hy is drie dae daarna ontslaan.

’n Maand later was die man terug vir ’n opvolgbesoek en dokters het gevind hy het volkome herstel.