Rondom middernag op 27 Oktober stap ’n jong vrou by die eerste stel trappe in Berlyn se Hermannstraße-treinstasie af. Sy draai regs en begin om die volgende stel trappe aan te pak.

’n Entjie agter haar drentel ’n bebaarde man en sy drie maats. Dit lyk asof hy vermoedelik met ’n drankbottel in sy hand loop terwyl hy ’n sigaret rook.

Dit lyk na ’n doodnormale toneel. Tot waar die bebaarde lafaard, in alle waarskynlikheid ’n besope een ook, sy spoed versnel en die niksvermoedende vrou in haar rug skop. Die onverwagse aanval laat haar die res van die trappe aftuimel.

Sy tref die grond en val hard op haar gesig. Terwyl sy verdwaas regop kom, steur nie een van die bebaarde man of sy makkers hulle verder aan haar nie.

Inteendeel, die skopper draai houtgerus om en stap doodgewoon weg van die arme vrou op die vloer, met die inhoud van haar handsak rondom haar gestrooi.

Een van die makkers staan vir ’n rukkie stil en kyk na sy maat se "handewerk" voordat hy buk, ’n oënskynlik leë bierbottel optel en die ander volg. Daarna kan gesien word hoe verbygangers hul naderhaas om die vrou te help.

Die skokkende video is eers onlangs aan die Duitse media beskikbaar gestel.

Benjamin Jendro, woordvoerder vir die Berlynse WerkerspartyBerlin Worker’s Party het aan die Duitse dagblad Bild gesê die voorval wys hoe gou enigiemand in die stad ’n slagoffer van sinnelose misdaad kan word.

Daar word gegis dat die mans deel is van ’n immigrante-bendegroep, maar daar is tot dusver geen bevestiging dat hul wel immigrante is nie.

Bronne: nzherald.co.nz, mirror.co.uk, nydaily.com, metro.co.uk