Vir tien jaar kry die akoestiese musiekgroep Kaleidoskoop dit reg om die harte van musiekaanhangers regoor die land te verower.

En ter viering van ’n suksesvolle dekade, het hierdie Huisgenoot Tempo-bekroonde en Ghoema-genomineerde sang-duo pas ’n nuwe verwerking van Billie Jean uitgereik.

Buiten vir die talle benoemings, toekennings en radiotreffers op hulle kerfstok, geniet Kaleidoskoop se musiekvideo’s ook groot sukses op YouTube waar hul liedjie Vars Uitgekerf al meer as 77 000 keer gekyk is, terwyl Roadtrip reeds meer as 44 500 kykers bereik het.

Ons het met Anique Jordaan en Jouba Jordaan, die mense agter die musiek, gesels.

Hoe het julle mekaar ontdek?

Anique: Ons is beide oud-Maties en het op Universiteit ontmoet. In 2006 het Jouba reeds Kaleidoskoop gestig saam met Gerhard Liebenberg, ’n koshuisvriend, en ek het in ons koshuis se sêr-groep gesing.

Jouba het my genooi om ’n vertoning te kom kyk en ek het ’n CD gekoop (en óp geluister). Daarna het hy gehoop ek ken so half die liedjies en het hy my gevra om in te staan vir een van die lede wat moes toets skryf een aand tydens ’n vertoning.

Wat is een van jul gunsteling-liedjies om op te tree en hoekom?

Moedersmelk is ’n liedjie van ons eerste album Platsak, maar het steeds soveel trefkrag. Dit het ’n positiewe boodskap - veral vir ons land, en ons voel dis relevant in vandag se tyd. Dis lekker om te sien hoe sommige mense in die gehoor die woorde saamsing en die lirieke geniet.

Loop musiek in julle families?

Anique: My pa en ma stry altyd oor hierdie een. My ma beweer sy het ’n tannie van haar oupa (of iemand vêr) wat in Buckingham paleis musieklesse gegee het (dis glo waar).

My ouma aan my pa se kant was die orrelis in die kerk en ook baie musikaal. So hulle albei maak aanspraak op waar die musiek-talent vandaan kom...

Jouba: My oupagrootjie aan my pa se kant was lief vir sing en kitaarspeel. My oupa aan my ma se kant kon ook ’n paar musiek-instrumente speel. My sussie is 'n musiekonderwyseres, so dit loop seker maar êrens in die are.

Hoe werk die skryfproses as meer as een persoon aan ’n liedjie skryf?

Ons skryf maar elkeen op ons eie. Ons sal wel toelaat dat die een die ander se lied skaaf deur voorstelle te maak rakende harmonieë en melodie-lyne, maar die keuse bly steeds by die skrywer van die lied om dit te gebruik of nie.

Wie bewonder julle in die bedryf en hoekom?

Laurika Rauch. Sy is een van ons albei se kinderheldinne en haar liedjies wakker baie nostalgie en soveel emosies in ons aan. Sy is na al die jare in die bedryf nog net wie sy is; getrou aan haarself en haar musiek-styl. Ons bewonder ook haar nederigheid en warmte as mens.

Het julle al enige snaakse oomblikke op die verhoog gehad?

Anique: Een aand in Stilbaai het ek reeds die inleiding begin speel toe ek sien Jouba klap iets rondom sy nek. Hy het ’n rukkie stilgesit, toe spring hy op, ruk sy ingesteekte hemp uit sy broek en skud verwoed. Hy gaan sit weer doodrustig en wag om sy kitaar op die regte plek te begin speel, maar ek weet ek het niks by sy hemp sien uitval nie.

Iewers skuil daar ’n ses-poot tydbom.

Ek begin weer die inleiding van voor af en my oog vang Jouba se hand wat van buite af iets in sy broekspyp vang. Ek sien hoe probeer hy hom dooddruk teen sy knie net om drie sekondes later die ding weer – dié keer ’n bietjie hoër teen sy been op – te stop!

Net voor ek begin sing hoor ek Jouba val heeltemal te vroeg in. Nie eers met sy kitaar soos hy moet nie, sommer met sy stem: “Nee, skuus julle. Ek moes nou eers die ding gaan uitgooi!” En hy hardloop tot die gehoor se vermaak agter ’n bos in, trek sy broek uit en laat die stomme koringkriek vry!

Wat was die vreemdste ding wat julle al beleef het terwyl julle optree?

Ons moes al deur ’n karate-klas se geskree probeer sing wat besig was om onder die verhoog aangebied te word in Oos-Londen.

Enige snaakse aanhanger-oomblikke?

Iemand het by een van ons vertonings by die KKNK herhaaldelik vir "Kaptein" gevra terwyl ons sing. Hy was duidelik nie ’n groot "aanhanger" nie.

Wat sal aanhangers verras om te weet van julle?

Jouba het ’n liefde vir houtwerk en het vir amper 4 jaar gepraktiseer as ’n gekwalifiseerde wynmaker voor hy musiek as beroep gekies het. Hy het ook eers in sy eerste jaar begin kitaar speel.

Anique het op 11 haar balletklasse verruil vir sanglesse en is ’n laatlam van 13 en 15 jaar na haar broer en suster. Sy het op 4 jarige ouderdom haar eerste klavier-konsert gegee by Rawsonville se kerk-basaar en het haar eerste instrumentele liedjie, "The Palace", geskryf op 6.

Kyk hier na Kaleidoskoop se nuwe verwerking van Billie Jean: