Dit is moeilik om te glo dit is al ’n volle vier jaar sedert die wêreld met ingehoue asem gewag het terwyl die hertogin van Cambridge voorberei het om by die Lindo-vleuel van die St. Mary’s-hospitaal in Londen geboorte te skenk aan haar en prins William se eersteling.

Prins George was kort nadat hy gebore is, die bondeltjie vreugde waarop die wêreld gewag het. Foto: Getty Images

Maar aan die einde van die “groot gewag” het sy stralend met ’n klein prinsie in haar arms uitgekom en die klein monarg met die wêreld gedeel.

Vier jaar van bolwangetjies, sy gou lokke en oneindige skattigheid het gevolg – natuurlik met ’n paar parmantige oomblikke waar hy sy ouers op hul tone gehou het.


Prins George Alexander Louis van Cambridge vier Saterdag sy vierde verjaardag, kort nadat sy gesin, insluitend kleinsus, prinses Charlotte (2), van ’n besige reis in Pole en Duitsland tuisgekom het.

Die koningshuis het ter viering van George se verjaardag ’n amptelike foto van die bloubloed mannetjie uitgereik.

Maar die volgende paar maande gaan selfs meer opwindend wees vir die kleinding, want dit raak tyd vir die “groot skool”!

Volgens MailOnline, die knapie se ma, Kate, is sy nie seker George “het enige idee wat hom gaan tref” wanneer hy voltyds in die skool gaan wees nie.

Prins George gaan na verwagting in September by ’n privaat dagskool Thomas Battersea inval. Tot nou toe was klein George by ’n kleuterskool naby sy ouers se huis in Norfolks, Anmer Hall.

Die nuwe skool jaag ouers glo ’n allemintige £17 604 (R295 000) per jaar uit die sak en daar is volgens hulle webtuiste ongeveer 540 seuns en dogters tussen die ouderdom van vier en 13 in die skool.

Maar vir nou is dit nog nie hok toe nie, dit is nog partytjietyd: Lekker verjaar, George!

Bronne:  MailOnlineThe Belfast TelegraphInternational Business Times