Stel jou voor jy glip vinnig weg winkel toe om melk en brood te koop – en hier verras 'n jong koedoe jou in die winkel!  

Hierdie is immers Afrika en vreemder dinge het al gebeur.

'n Arme jong koedoebul het onlangs verward by 'n OK Grocer in die dorpie Karibib in die weste van Namibië ingewandel, berig die koerant Informanté. Volgens die koerant het die winkeleienaar, Bernhard Pieters, 'n rumoer in die winkel gehoor en gesien die dier het die winkel binnegekom. Die koedoe het op die gladde vloer gegly en geval, maar is darem vinnig deur omstanders gehelp.

Daar word vermoed die koedoe – van nature 'n menssku dier – het die winkel binnegedwaal op soek na water. Namibië gaan die laaste ruk onder 'n kwaai droogte gebuk en veral diere ly daaronder.

Huisgenoot het die OK Grocer gekontak vir kommentaar, maar kon nog nie self met die eienaar praat nie.